Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Aanstelling van BEO Direkteur - Prof Johann Kirsten
Outeur: Bureau for Economic Research (BER)
Gepubliseer: 12/05/2016

Die Buro vir Ekonomiese Ondersoek (BEO) aan die Universiteit Stellenbosch kondig graag aan dat professor Johann Kirsten as die nuwe Direkteur van die BEO aangestel is. Prof Kirsten neem die leisels op 1 Augustus 2016 oor. Hy volg prof Ben Smit op. Prof Smit het einde-Desember 2015 as Direkteur afgetree.

Prof Stan du Plessis, dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, het gesê: "Die Universiteit Stellenbosch en die fakulteit is verheug oor die aanstelling van professor Johann Kirsten as die sesde direkteur van die BEO. Hy is 'n akademikus met internasionale aansien, 'n ervare akademiese leier en hy neem aan nasionale beleidsake op die hoogste vlak deel. Sy kennis van die sakewêreld, sowel as akademiese leierskap oor vele jare, sal van onskatbare waarde vir die BEO wees namate die BEO verder bou aan 'n uitstekende reputasie vir relevante navorsing van hoogstaande gehalte."

Die Universiteit Stellenbosch het prof Kirsten aangestel na 'n indiepte werwingsproses wat advertensies in verskeie plaaslike en internasionale media gedurende 2015 ingesluit het. Die dienste van 'n spesialis-werwingagentskap is gebruik en drie rondes van onderhoude het gevolg.

In reaksie op sy aanstelling het Prof Kirsten gesê: "Ek is baie opgewonde oor die aanstelling en nuwe verantwoordelikhede by die BEO. Na byna 25 jaar in diens van die Universiteit van Pretoria (UP), waar ek gewerk het met die uitdagende en emosionele kwessies van landboubeleid en grondhervorming, gaan dit 'n interessante uitdaging wees om na 'n ander, maar aanverwante studieveld te beweeg. Dit is egter so dat 'n verandering en nuwe uitdaging soos 'n vakansie is en iets waarna ek uitsien. Ek hoop om 'n belangrike bydrae te lewer tot die behoud van die beeld en reputasie van die BEO wat waardevolle insigte oor die prestasie van die Suid-Afrikaanse ekonomie lewer. Namate die Suid-Afrikaanse ekonomie worstel om in reële terme volhoubaar te groei, werk te skep en armoede en ongelykheid te verminder, is dit miskien ook tyd vir die BEO om meer spesifieke navorsing oor beleidsake te doen. Ek is oortuig daarvan dat die kundigheid, gerespekteerde data en inligting van die BEO Suid-Afrika met dié kritieke vraagstukke kan help.

In my nuwe werksomgewing en met 'n ander fokus in my loopbaan is dit belangrik om my vriende, kollegas en kontakte in die landbou- en voedselbedryf in te lig dat ek nie verlore vir landbou is nie. 'n Gesonde en stabiele makro-ekonomiese omgewing is van kritieke belang vir die landbousektor. Daarom vertrou ek dat my samewerking met, en leierskap van, die BEO-span tot voordeel sal wees van al die maatskappye, kommoditeitsinstellings en boere met wie ek so nou oor die jare gewerk het. Meer spesifiek gaan ek aktief bly in my rol om Karoo-boere te ondersteun om 'Karoo lam' te beskerm en te bemark as die ikoniese voedselproduk van Suid-Afrika.

Ek is ook hartseer om die Departement van Landbou-ekonomie by UP, wat ek oor die afgelope 19 jaar opgebou het, te verlaat. Ek vertrou egter dat die departement nou 'n stewige grondslag het met 'n fantastiese toekoms en wonderlike fakulteitslede wat sal voortgaan om 'n bydrae te lewer tot landbou- en ekonomiese sake regoor die Afrika-kontinent. Ek sal ook steeds vir die afsienbare toekoms met my huidige PhD- en M-studente saamwerk."