Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Studente en dosente ontvang erkenning vir harde werk
Outeur: Pia Nanny
Gepubliseer: 28/04/2016

Sewe studente van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe het vroeër vandeesmaand die Universiteit Stellenbosch (US) se jaarlikse Eerstejaars-prestigedinee bygewoon.

Pierre du Plessis, Willem Ackermann, Jacob Hugo, Olivia Viljoen, Monique Jakob, Lyle Ressouw en Julie-Anne Gerber was deel van 'n groep van 32 studente wat by dié funksie vereer is. Die groep is saamgestel uit studente wat in 2015 in hul eerste jaar was en in hul onderskeie fakulteite die beste gevaar het in die 2015 eindjaareksamen, asook twee Verlengde Graadprogram- (VGP-) studente.

Elkeen van die studente is gevra om die dosent wat die grootste bydrae tot hul akademiese sukses tydens hul eerste jaar gelewer het, na die dinee te nooi.

Willem en Pierre, wat albei Aktuariële Wetenskap studeer, het aangedui dat prof Sarel Steel van die Departement Statistiek en Aktuariële Wetenskap die grootste invloed op hul akademiese sukses gehad het. Jacob en Julie-Anne, wat ook Aktuariële Wetenskap studeer, het prof Florian Breuer van die Departement Wiskundige Wetenskappe uitgesonder. Lyle (ook Aktuariële Wetenskap) het me. Maricia Krige gekies.

Die twee BRek-studente, Olivia en Monique, het onderskeidelik vir me. Sybil Smit en me. Nabeelah Daniels, albei verbonde aan die Skool vir Rekeningkunde, genooi.

Olivia se boodskap aan Smit was: "U was altyd bedagsaam en het studente laat tuis voel. Die vriendelikheid waarmee ons elke periode in u klas begroet is, het nuwe energie verskaf. Die eienskap wat ek die meeste van u bewonder, is hoe voorbereid u elke dag was. U het u deeglike kennis oor die rekenkundige wêreld met passie aan ons oorgedra."

Vir Smit was dit 'n groot eer om deur 'n student genooi te word. "Dit is baie motiverend om positiewe terugvoering te ontvang. Ek geniet dit om klas te gee en dit is lekker om te weet ek kan 'n verskil maak. Dit herinner my ook aan die verantwoordelikheid wat op ons skouers rus elke keer wanneer ons voor 'n klas staan: om nie net tegniese kennis oor te dra nie, maar ook entoesiasme en tot 'n sekere mate lewensvaardighede. Ons het 'n invloed op ons studente – hetsy positief of negatief – en dit is iets wat ons altyd moet onthou."

Julie-Anne, 'n oudleerder van die Hoërskool Bellville, het gesê dit was baie bevredigend om erkenning te ontvang vir harde werk.

"Nou weet ons dit gaan nie ongemerk verby nie," het sy gesê.

Pierre du Plessis, wat in 2014 aan Somerset College gematrikuleer het, het gesê hy was trots om 'n uitnodiging na die geleentheid te ontvang omdat hy baie hard gewerk het.

"Dit was ook 'n voorreg om prof Steel 'n bietjie beter te leer ken."

Sy boodskap aan prof Steel was: "Jy het 'n positiewe invloed op my akademiese loopbaan gehad. Die Universiteit Stellenbosch is gelukkig om 'n dosent van jou kaliber te hê en ek wil jou bedank dat jy my geïnspireer en gehelp het om akademiese sukses te behaal."

FOTO'S:

Foto 1: Prof Pierre Olivier, Direkteur: Skool vir Rekeningkunde en Visedekaan (Rekeningkunde)​, Olivia Viljoen, Sybil Smit, Monique Jakob, Nabeelah Daniels, Maricia Krige en Lyle Ressouw.

Foto 2: Pierre du Plessis, prof Sarel Steel en Willem Ackermann.

Foto's deur Anton Jordaan, SSFD