Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Student-entrepreneur se klein begin en groot drome
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 14/04/2016

Dit is al gesê entrepreneurs word gebore, nie gemaak nie. En dit is vir seker waar van Dewald Müller wat tans besig is met sy honneursgraad in Aktuariële Wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch en ook die medestigter van die Adflow-maatskappy is.

Sy ondernemerstalent, vasberadenheid en toegewydheid is die afgelope paar maande op verskeie platforms erken.

In Julie 2015 het hy die Innovasie-toekenning by die Allan Gray Orbis Stigting se nasionale genootskap-jamboree ontvang. In Oktober is hy benoem as een van die wenners van die Nedbank Universiteit Stellenbosch LaunchLab Besigheidsinkubator se Pitching Platform-kompetisie en in November het hy die kategorie vir Beste Innoverende Studente-sakeidee by die Wes-Kaapse Premier se Entrepreneurskap Erkenningstoekennings gewen. In Februarie vanjaar het hy derde in Suid-Afrika geëindig in die Globale Studente Entrepreneurskaptoekennings.

In hierdie tyd het hy ook sy BCom-graad cum laude verwerf.

Maar waar het dit alles begin? Toe hy die besigheid "Biltong Broers" as 'n graad 4-leerder aan die Laerskool Robertson begin het? Toe hy bereken het hy kan meer geld verdien deur trollies te stoot as om op die kasregister te werk by die plaaslike supermark gedurende skoolvakansies? Toe hy studente se gewoonte opgemerk het om duur koffie te koop en Cuppa Campus begin het met die installering van verkoopoutomate by koshuise? Of toe hy besef het hierdie koffiekoppies is "advertensieborde op voete" en hy hierdie koffies en cappuchinos teen goedkoper kon verkoop as hy maatskappye wat dienste aan studente lewer kon oorreed om op die koppies te adverteer?

Wat hy gedoen het.

En nou verbreed hy sy horison wyer as die kampus en ondersoek die idee van 'n kruissubsidiëring-bemarkingsproses wat maatskappye regstreekse toegang tot die laerinkomstemark gee terwyl die laerinkomstemark dan basiese produkte teen laer pryse bekom.

"Ek het altyd gedink entrepreneurskap gaan daaroor om iets te skep wat nie bestaan nie en dan geld daaruit te maak. Maar ek het besef dit gaan daaroor om die omgewing rondom jou te beïnvloed. Hoe begin jy 'n besigheid waarvan mense deel wil wees? My droom is om dit wat ek tot nou toe geleer het, te neem en daarop voort te bou om iets winsgewend en iets waarby Suid-Afrika kan baat, te skep."

Om na die Universiteit Stellenbosch te kom, in Eendrag-koshuis te woon en aan bogenoemde kompetisies deel te neem, het Dewald se oë vir tallose beskikbare geleenthede oopgemaak. En hy maak tans gebruik van elkeen van hulle en skep ook langs die pad sy eie geleenthede. Hy vind veral die netwerkgeleenthede baie nuttig.

Maar om 'n studente-entrepreneur te wees, is nie maklik nie en hy moes leer hoe om rompslomp, rampe en mislukkings te bowe te kom.

Kort nadat Cuppa Campus sy eerste verkoopoutomaat geïnstalleer het, is hy een Saterdagoggend wakker gebel en ingelig dat die outomaat se pyp in die nag gebars het en die vloer onder water was. Al het hy daardie oggend 'n toets geskryf, moes Dewald eers die gemors uitsorteer en 'n loodgieter reël ...

"Ek moes sommige van die moeilikste uitdagings in my lewe te bowe kom en daar is tye dat ek wens ek kan net 'n student wees."

Maar Dewald glo vas dat as jy die universiteit verlaat met net 'n graad, het jy jou tyd gemors.

Hy vind sy vakke baie bruikbaar en dink dis ironies dat hy 'n kursus studeer wat jou leer hoe om risiko te bepaal en dit te vermy.

"Dan stap ek by die klas uit en spring van die (metaforiese) krans af," glimlag hy.

"Wanneer jy 'n entrepreneur is, benader jy niks halfhartig nie. Jy pak dit met alles wat jy het. Jy moet leer om daardie eerste stap te neem, jouself nie te ernstig op te neem nie en om geduldig, volhardend en positief te wees."