Die Andrew Murray-prysfonds het pas die wenners van vanjaar se pryse vir Christelike en teologiese boeke aangekondig.
Die publikasie Living with Dignity - African Perspectives on Gender Equality uit die stal van Sun Press het vanjaar die Andrew Murray-Desmond Tutu-prys gewen. Die redakteurs van dié werk is Elna Mouton en Len Hansen van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch (US), Getrude Kapuma van Malawi en Thomas Togom van Kenia.
Hierdie projek het meer as twintig teoloë van dwarsoor Afrika betrek en die boek bespreek belangrike kwessies van geslagsgelykheid en menswaardigheid in Afrika vanuit verskillende perspektiewe.
Dr Frits Gaum, voorsitter van die Andrew Murray Prysfonds sê: "Die beoordelaars is van mening dat hierdie publikasie ʼn groot bydrae sal lewer om Afrika-denke oor hierdie sake te help vorm, en dat die werkswyse van saam dink en saam skryf die weg baan vir toekomstige teologiese en akademiese samewerking in Afrika."
Die teoloë Dion Forster, Nadia Marais en Rian Venter het as beoordelaars opgetree. Die prys, wat op 19 Mei 2016 oorhandig word, bestaan uit R20 000 en oorkondes.
Die Andrew Murrayprys vir die beste Afrikaanse Christelike boek is toegeken aan Barend Vos vir sy boek Die ewigheid in my hart, uitgegee deur Lux Verbi. Vos, ʼn alumnus van die Fakulteit Teologie aan die US en onder meer die skrywer van geslaagde Bybelromans, het in kerklike kringe as satiriese rubriekskrywer bekendheid verwerf. Sy wenboek bied meditatiewe, eietydse omskrywings van die Psalms.
Die Desmond Tutu-Gerrit Brand-prys vir debuutwerk in ʼn amptelike taal van Suid-Afrika is vernoem na die Nobelpryswenner Desmond Tutu, en die vroeggestorwe Stellenbosse teoloog en boekeredakteur, Gerrit Brand. Die wenboek vanjaar is Jong teoloë praat saam ... uitgegee deur Bybel-Media met Annette Potgieter as inisieerder en redakteur. Vyftien studente van teologiese fakulteite van verskeie universiteite in Suid-Afrika skryf oor hedendaagse geloofs- en lewensvrae wat vir hulle belangrik is.
Die Andrew Murray-FAK-toekenning word vanjaar vir die eerste keer toegeken en wel aan Chris Lambrechts vir ʼn buitengewone bydrae tot Christelike musiek.
ʼn Spesiale Andrew Murray-toekenning word gemaak aan die kerkhistorikus en Africana-versamelaar Gerdrie van der Merwe. Hy kan met reg die kroniekskrywer van NG gemeentes genoem word, met meer as vyftig boeke waarin hy die geskiedenis van gemeentes en predikante noukeurig opgeteken het. Hy het ook ʼn versameling van kerkhistoriese en teologiese boeke en ander Africana opgebou wat enig in sy soort is, waarskynlik die grootste van dié aard in private besit.