Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Navorsers pak uitdagings van kinder-TB aan
Outeur: Wilma Stassen
Gepubliseer: 22/03/2016

Ter herdenking van Wêreld TB-dag op 24 April, bespreek van die wêreld se voorste navorsers oor kinder-TB die bykomende uitdagings waaraan kinders blootgestel word as hulle aan dié siekte lei.

Lang behandelingsregimens, bitter volwassene-grootte tablette en pynvolle inspuitings met ernstige newe-effekte is van die uitdaging wat navorsers van die Universiteit Stellenbosch aanpak om die behandeling vir kinders met TB te verbeter.

Ten spyte van hierdie uitdagings reageer die meeste kinders goed op behandeling, sê prof Anneke Hesseling, direkteur van die Desmond Tutu TB-sentrum (DTTS) aan die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW).

"Ons kan kinders met TB genees, maar die uitdaging is om die behandeling meer kinder- en familie-vriendelik te maak deur die regimens te verkort en om kinders medisyne te gee wat maklik is om te sluk, sê Hesseling, wie se sentrum baanbrekersnavorsing doen oor kinder-TB.

Die huidige behandelingsregimen vir 'n kind met middelsensitiewe TB duur ses maande, terwyl behandeling vir veelvoudige-middelweerstandige TB tussen 12 en 18 maande kan duur – wat ses maande se daaglikse inspuitings insluit waarvoor die meeste kinders in die hospitaal opgeneem word.

"Daar is minder TB-organismes in 'n kind met long-TB en daarom ook minder organismes om dood te maak. Dus is daar 'n werklike geleentheid om behandeling vir kinders met middelsensitiewe TB te verkort," sê Hesseling, 'n uitgelese professor in pediatrie by die FGGW.

Haar navorsingsgroep toets nuwe strategieë om die behandelingsregimen vir middelsensitiewe TB van ses na vier maande te verkort vir kinders wat nie ernstige vorms van die siekte het nie. Hierdie studie sal 'n nuwe kindervriendelike formulering gebruik wat al die TB-medisyne kombineer (vaste dosis) in 'n klein tablet wat in water opgelos kan word en aangenaam smaak.

Tans moet volwassene-grootte tablette in helftes of kwarte gebreek word of fyngemaak word om die regte dosis vir babas en kinders te kry. "Hierdie tablette is gemaak om heel ingesluk te word en proe verskriklik as jy dit fyn maak," sê dr Tony Garcia-Prats, die mediese direkteur van Brooklyn-borshospitaal en hoof van die Eenheid vir Pediatriese Farmakokinetika  van die DTTS.

Deur hulle navorsing oor die veiligheid en dosering van nuwe middels in kinders hoop hulle ook om behandeling vir veelvoudige-middelweerstandige TB ('n stam van TB wat weerstandig is teen die meeste eerstelinie-medisyne) van die huidige 12 tot 18 maande te verkort na ses tot nege maande, en om ook weg te doen met ouer toksiese middels, insluitend die daaglikse inspuiting wat kinders vir ses maande moet kry en wat tot permanente gehoorverlies kan lei.

Die DTTS neem deel aan die eerste proef ooit van 'n nuwe TB-middel (delamanid) onder kinders en dra ook by tot die studie oor die veiligheid en dosering van 'n ander middel (bedaquiline) wat onlangs op die mark gekom het. "Bedaquiline is reeds in Oktober 2014 in Suid-Afrika gelisensieer, maar kinders het steeds geen toegang daartoe nie omdat nog geen pediatriese navorsing daaroor gedoen is nie," sê Garcia-Prats.

Hulle navorsing oor delamanid het reeds gehelp om dosering vir kinders te bepaal en is veilig bevind vir kinders ses jaar en ouer wat daartoe gelei het dat dit om menslikheidsredes beskikbaar gestel is in hierdie groep.

"Natuurlik is die mees doeltreffende manier om TB onder kinders te behandel, om dit te voorkom," sê Hesseling en verduidelik dat kinders gereeld TB van ander lede van hulle huishouding kry wat TB het.

"Daar is duidelike bewyse dat deur een middel, genaamd isoniazid voorbehoedende behandeling, daagliks vir ses maande te neem, jy TB onder kinders kan voorkom – maar die implementering daarvan is steeds baie swak. Sestig persent van kinders wat hier by die Brooklyn-borshospitaal lê het huishoudelike kontak met TB gehad, maar baie min van hulle het voorkomende behandeling ontvang."

Hesseling sêdat ses maande se daaglikse behandeling moeilik is, veral vir 'n gesonde kind. Die DTTS tesame met ander navorsingsvennote doen toetse om te bevestig of 'n nuwe middelkombinasie (wat nuwe en ou middels insluit) wat een maal 'n week vir 12 weke toegedien moet word, net so veilig en effektief as isoniazid kan wees. Dit sal die behandeling verkort van ses na drie maande en sal weeklikse, in plaas van daaglikse, medikasie behels.

"Voorkoming is nie net beter vir die kind nie, dit is ook baie kostedoeltreffend en minder van 'n las op die gesondheidstelsel," sê Hesseling.