Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US Koor wen Fiësta-toekenning
Outeur: Wayne Muller
Gepubliseer: 23/02/2016

Die Stellenbosse Universiteitskoor het die Fiësta-toekenning vir beste uitvoering van klassieke musiek gewen.

Die prys is Donderdag (18 Februarie) in Pretoria tydens 'n spoggeleentheid in die Staatsteater oorhandig.

Die Fiësta-toekennings word jaarliks deur die DStv-kanaal kykNET uitgeloof en beloon uitnemende produksies wat in 'n bepaalde jaar by een van die land se Afrikaanse kunstefeeste op die planke gebring is.

Die US Koor het sy toekenning ontvang vir 'n konsert wat op verlede jaar se US Woordfees aangebied is. Op vanjaar se fees sal die koor weer eens 'n konsert lewer.

André Van der Merwe, die US Koor se dirigent, sê: "Die Fiësta-toekenning gee wonderlike erkenning aan die koorlede se uitsonderlike toewyding en talent. Vir my is elke repetisie met hierdie groep studente inspirerend.

"Ek is baie trots op hierdie span wat wys dat diversiteit werklik gevier kan word!"

In die kategorie vir klassieke musiek het die US Koor meegeding met die Kaapse Jeugkoor, die pianis en US-alumnus Esthea Kruger se klavieruitvoering (wat ook op die US Woordfees aangebied is), asook 'n uitvoering deur die Odeion-strykkwartet van Bloemfontein saam met die Kaapse sopraan Zanne Stapelberg.

Jana Hatting, Projekbestuurder van die US Woordfees, waaronder die koor ressorteer, sê: "Ons is baie trots op die koor. Ons het nou nasionaal én internasionaal gewys ons is die beste!"

Die US Koor hou op 10 en 11 Maart om 13:15 'n konsert tydens die US Woordfees. Dit word in die Endlersaal aangebied. Kaartjies is by Computicket beskikbaar.