Die Nagraadse Skool vir Ekonomiese
en Bestuurswetenskappe het pas ʼn nuwe groep PhD-studente op kampus verwelkom. Dit
is die derde inname van dié skool en bestaan uit 10 studente van Ghana,
Kameroen, Malawi, Uganda, Zimbabwe en Suid-Afrika.
Die Nagraadse Skool, onder leiding
van dr. Jaco Franken, is net meer as twee jaar gelede gestig en stel
voornemende PhD-studente in staat om, met behulp van ruim studiebeurse, voltyds
te studeer en hul grade binne drie jaar af te handel. Die studente word
gemonitor en ontvang gereeld vorderingsverslae.
Volgens die dekaan van die
Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, prof. Stan du Plessis, is dit ’n
integrale deel van die fakulteit se plan om meer PhD-graduandi te lewer. “Die
nagraadse skool maak dit vir mense makliker om PhD-studies in die vakrigtings
van die fakulteit aan te pak. Dit sal daartoe lei dat die getal doktorale
graduandi drasties styg.”
Die eerste inname van 10 voltydse
PhD-studente het hul doktorale reis in 2014 begin, terwyl 'n tweede groep in
Januarie 2015 verwelkom is. Met die 2016-inname het die nagraadse skool sy
teiken van 30 voltydse PhD-studente bereik.
Die inisiatief is in 2015
uitgebrei met ʼn program vir akademiese personeel van die Fakulteit Ekonomiese
en Bestuurswetenskappe. Personeel word ondersteun om deeltyds hul doktorale
studies binne vier tot vyf jaar af te handel.
“Ons doel is om sover moontlik
hindernisse uit die pad van doktorale navorsing te ruim en die proses
stroombelyn te maak. Dis baie moeilik om doktorale studies met 'n voltydse werk
te kombineer. Danksy die beurse kan kandidate hul aandag by hul studies
bepaal,” verduidelik dr. Franken.
Die skool het in September 2015 na
'n nuwe perseel in die A.I. Peroldgebou verhuis, waar ʼn werkstasie aan elke
student toegewys is. Daarbenewens ontvang studente 'n skootrekenaar,
administratiewe ondersteuning en akademiese leiding in die vorm van slypskole
vir skryfvaardighede, projekbestuur en navorsingsmetodologie.
Die nagraadse skool lok mense van
oor die wêreld heen, met studente van onder meer Oostenryk, China en verskeie Afrika-lande.
Anna Orthofer, 'n PhD-student van
Oostenryk en alumna van die Universiteit van Wene sowel as die Johns Hopkins
Universiteit in Washington, het twee jaar lank as 'n bestuurskonsultant by
McKinsey & Company gewerk voordat sy vir 'n PhD by die Universiteit
Stellenbosch geregistreer het.
Haar navorsing fokus op die verdeling
van welvaart.
“Vir 'n internasionale student is
een van die hoofvoordele om deel te wees van 'n PhD-program dat ek ten volle op
my navorsing kan konsentreer en gerus wees dat daar na die administratiewe
kwessies omgesien word. Dit het dit ook makliker gemaak om met die intrapslag
mense te leer ken. Om 'n PhD te skryf is op sigself 'n eensame oefening, so dit
help om ten minste 'n kantoor te deel met die res van die groep.”
Laurie Binge het vir vyf jaar as
'n ekonoom vir 'n konsultasiefirma gewerk voordat hy weer student geword het.
“Die nagraadse skool het gehelp
wat betref finansiering, natuurlik, én wat betref ontwikkeling van vaardighede
deur middel van verskeie slypskole. Dit stel jou ook bekend aan 'n netwerk van
PhD-navorsers wat jy gereeld ontmoet om jou navorsing mee te bespreek.”
Anderson Gondwe het by 'n
beleggingsbank in Malawi gewerk voordat hy besluit het om sy doktorale studies
aan te pak.
Sy navorsing behels
arbeidsekonomie, armoede- en ongelykheidsontleding, onderwys en
ontwikkelingsekonomie.
“Ek dink die hele idee bring orde
in die stelsel en maak die lewe vir almal makliker. Op 'n groter skaal behoort
dit 'n toename in die aantal PhD's tot gevolg te hê. Sonder die nagraadse skool
sou ek steeds in die bank gewerk het. Ek het nooit daaraan gedink om 'n PhD te
doen totdat hierdie geleentheid oor my pad gekom het nie.”
- Foto: 'n Verwelkomingsfunksie vir 'n nuwe groep PhD-studente is onlangs op Middelvlei, Stellenbosch gehou. Nicola van der Westhuizen (RSA), Abel Gwaindepi
(Zimbabwe), Christie Swanepoel (RSA), Jude Mugarura (Uganda), Chengetai Dare
(Zimbabwe), Benjamin Batinge (Ghana) en Anna Orthofer (Oostenryk) was onder die
gaste.