Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
SUNSEP vier sukses van 2015 HOPE@Maties-leerders
Outeur: Anneke Müller
Gepubliseer: 14/01/2016

​Agt leerders op die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) se merietelys en vyf leerders op die top20-lys van die Noord-Kaap se Onderwysdepartement was in 2015 deel van die HOPE@Maties-program.

Ongeveer 'n derde van die groep het onderskeidings in Wiskunde en Fisiese Wetenskappe ontvang en amper die helfte het onderskeidings ontvang in Rekeningkunde.

In 2015 het altesame 245 leerders hierdie program by ses sentrums in die Wes-Kaap bygewoon. Die 110 leerders van die Noord-Kaap het almal in Kimberley bymekaargekom.

Deur hierdie universiteitvoorbereidingsprogram, wat deur SUNSEP by die Universiteit Stellenbosch (US) aangebied word, kry leerders in hul Graad 12-jaar bykomende onderrig in spesifieke vakke.

Leerders met 'n gemiddeld van meer as 70% aan die einde van Graad 11 word uitgenooi om deel van die program te word. Hulle woon die program gedurende die drie skoolvakansies van hul matriekjaar by. Die beste onderwysers in die verskillende streke word gekies om die ekstra onderrig aan die leerders te bied. Enkele van SUNSEP se tutors is ook betrokke.

Met die hulp van die Afdeling vir Studentewerwing by US word die leerders gehelp word om ingeligte beroepskeuses te maak voordat hulle aansoek doen vir universiteitstoelating. Die meeste van hierdie leerders het reeds gekies om in 2016 by US in te skryf.

Dr Trevor van Louw, Direkteur van SUNSEP en die persoon wat hierdie program 'n paar jaar gelede begin is, het gesê die sukses van hierdie program kan toegeskryf word aan "die toewyding van gefokusde leerders, die ondersteuning van hul ouers, skoolhoofde, onderwysers, amptenare van die twee onderwysdepartemente en die SUNSEP-tutors. Ons is baie trots op die uitslae van vanjaar se groep. Hulle het baie goed presteer. Baie geluk aan almal".

Die volgende 2015 HOPE@Maties leerders is op merietelys van die WKOD.

Taskeen Ebrahim (Hoërskool Rylands ) met 9 onderskeidings, Lionel Liam Leon Gordon (Bernadino Heights), Saarrah Hendricks, Habiba Modack, Ayesha Salomo en Thaabiet Parker (al vier van die Hoërskool Livingstone en elk met 7 onderskeidings) asook Shandre Jade Jansen (George Sekondêre Skool) en Siphokazi Trudy Mncameni (Hoërskool Mandlenkosi in Beaufort-Wes), albei met 6 onderskeidings.

In die Noord-Kaap is daar vyf HOPE@Maties leerders op die provinsie se top20-lys. Hulle is die toppresteerder Thiven Padyachy van Hoërskool Noord-Kaap in Kimberley asook Cudray Olyn van Douglas, Thato Nyati van Kimberley Hoër Meisieskool, Erone Pretorius van Hoërskool​Adamantia in Kimberley en Tusimang Sentle van Pampierstad.

Hierdie program word weer in 2016 aangebied. Vir meer inligting, besoek die program se webwerf http://www.suncep.sun.ac.za/UPP/Hope.html of skakel ons by 021 8083483/2274.