Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
​Rietenbosch-projek 'n wenner vir leerders, gemeenskap en omgewing
Outeur: Korporatiewe Bemarking / Corporate Marketing
Gepubliseer: 14/01/2016

'n Vleiland rehabilitasie projek wat sy oorsprong in die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Opvoedkunde het, maak goeie vordering en is op koers om meer as 20 000 leerders in en rondom Stellenbosch te bevoordeel.

Die Rietenbosch vleiland projek is in 2013 van stapel gestuur en word gelei deur die US se Omgewingsopvoedingsprogram (OOPUS). Die projek het ten doel om die vervalle vleiland op die Rietenbosch Primêre Skool se perseel in Cloestesville te rehabiliteer en te ontwikkel. OOPUS funksioneer as 'n program van die Departement Kurrikulumstudie met sy belangrikste funksie om omgewingsopvoeding in al die programme van die Fakulteit in te sluit en om omgewingsonderwys in skole te formaliseer.

"Die Rietenbosch vleiland projek kom nou tot eie reg," sê programkoördineerder prof Chris Reddy, hoof van die OOPUS-program. "Ons wil hê dat die vleiland gebied as 'n opvoedkundige hulpmiddel vir onderwysers, leerders, sowel as die breër gemeenskap van Cloetesville dien," sê hy.

"Die begin van die projek het 'n fisiese komponent ingesluit van onder meer die verwydering van indringerplante, die aanlê van tuine en die ontwikkeling van waterbronne en damme. Die fisiese werk is nou amper klaar en in die volgende jaar sal ons fokus op die skep van 'n vrywilliger ouerstelsel en 'n jeugklub sowel as die ontwikkeling en verspreiding van leerondersteuningsmateriaal vir onderwysers wat nou saamval met die Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring ."

Volgens Reddy, sal die fondse wat onlangs van die Nasionale Lottery Verspreidingstrustfonds ontvang is, verseker dat die doelwitte van die projek 'n werklikheid word. "Die fondse sal beslis die professionele ontwikkeling van onderwysers, hulpbron-ontwikkeling en finale fisiese rehabilitasie van die eens vervalle vleiland ondersteun," voeg hy by.

"Tot dusver het die proses van rehabilitasie gelei tot vennootskappe binne die universiteit, wat positiewe vordering teweeggebring het. Studente van die siviele ingenieurswese departement het opmetingsdienste in die eerste fase van die projek voorsien en 'n kontoer profiel vir die gebied ontwikkel wat nuttig is vir die kontrakteur wat die landskap moet doen en die vleiland moet vorm. Dit was 'n gratis diens wat ons geld gespaar het.

"Die aankoop afdeling van die administrasie en fasiliteite bestuur personeel was ook baie hulpvaardig. Hulle het kundigheid voorsien met betrekking tot die tender prosesse, die ontwikkeling van die werk spesifikasies vir die kontrakteurs sowel as die monitering van die terrein en werk vordering."

Reddy sê leerders, onderwysers en die skool se beheerliggaam is ingelig tydens verskeie gesprekke en besoeke. "Hulle is baie opgewonde oor die vooruitsigte en die ontwikkeling as 'n geheel en ons het hul volle steun. Ons beplan ook 'n vergadering met die ouers en lede van die gemeenskap vir later vanjaar om hulle bekend te stel aan die idee van die vleiland as 'n ontspanningshulpbron en 'n gemeenskapsbate."

Die Nasionale Lottery se Sershan Naidoo sê: "Die Nasionale Lottery Kommissie is daartoe verbind om nie-winsgewende projekte te ondersteun wat daarop gemik is om ons omgewing te beskerm, veral wanneer sulke projekte bewustheid by skoolkinders skep. Ons wil verseker dat ons bewaringspogings deursyfer na die jonger geslag wat op hul beurt sal voortgaan om ons omgewing te bewaar vir toekomstige geslagte."

Volgens mnr Roy van Rooyen, skoolhoof van Laerskool Rietenbosch, is hierdie inisiatief voordelig vir die skool en die gemeenskap as 'n geheel. "Hierdie projek is uniek en ons leerders is baie opgewonde om deel daarvan te wees. Ek hoop dat dit sal uitbrei en dien as 'n voorbeeld vir ander skole en gemeenskappe van wat moontlik is."

  • Foto-onderskrif: Hier is prof Chris Reddy, Rietenbosch skoolhoof mnr Roy van Rooyen en prof Nico Koopman, Waarnemde Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie & Personeel, by die vleiland-gebied. (Foto: Stefan Els)

 

 

​