Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Helio100 beloof bekostigbare sonkragdeurbraak
Outeur: Korporatiewe Bemarking/ Corporate Marketing
Gepubliseer: 31/08/2015

Die haalbaarheid van gekonsentreerde sonkrag (concentrated solar power – CSP) as 'n realistiese, koste-effektiewe en skoon alternatief vir fossielbrandstowwe sal 'n groot hupstoot kry met die bekendstelling van 'n CSP-toetssentrum by die Universiteit Stellenbosch (US) waar 'n nuwe sonlig-opvangstelsel gedemonstreer sal word.

Indrukwekkende toetssentrum open binnekort

Die Helio100-toetssentrum op die US-proefplaas Mariendahl word amptelik aan die einde van September geopen. Die Helio100-tegnologie is ontwerp vir CSP-aanlegte so klein as 100kW – genoeg krag om elektrisiteit aan sowat 30 Suid-Afrikaanse huishoudings te voorsien.

Helio100 word geborg deur die Tegnologie-Innovasie-Agentskap (TIA), ontwikkel deur die US se sontermiese energienavorsingsgroep, STERG (Solar Thermal Energy Research Group). Dit is die eerste universiteitsnavorsingsgroep in die land wat op navorsing oor termiese sonkrag fokus. Die projek is gesetel in die Sentrum vir Hernubare en Volhoubare Energiestudies (CRSES) in die US se Fakulteit Ingenieurswese.

 

Wat is Helio100?

"Helio100 bestaan uit 'n veld van spieëls wat as heliostate bekendstaan en 'n klein toring wat gekonsentreerde sonlig opvang wat 'n turbine op 1 000°C kan aandryf," verduidelik Paul Gauche, senior US-navorser en stigtersdirekteur van STERG. Lug word verhit en dit kan 'n gasturbine soortgelyk aan dié in jet-enjins aandryf. Dit beteken geen water of ander vloeistowwe is nodig nie.

"Die werklike struikelblok wêreldwyd vir hierdie tegnologie is dat dit gedoen moet word teen 'n lae koste – iets waarvoor ons glo ons die oplossing het."

Die STERG-span het vroeg in 2014 'n toekenning van die TIA ontvang om die tegnologie in die 100kW-toetssentrum ten toon te stel. Die tegnologie het 'n eenvoudige en vars benadering om die huidige uitdagings in heliostaat-velde te oorkom.

Kitsfeite

  • Helio100 kan op bykans enige plek geïnstalleer word.
  • Die installasieproses benodig nie gevorderde kennis, grondvoorbereiding of 'n groot werksmag nie.
  • Helio100 kan opgestel word deur so min as twee mense.
  • Die toetsweergawe genereer reeds genoeg krag om elektrisiteit aan sowat 30 huishoudings te kan verskaf.
  • Produksie is nie duur nie en dis veral goedkoper as diesel, die algemeenste plaasvervanger tydens kragonderbrekings.
  • Baie meer energie kan gestoor word, dag en nag en in enige weersomstandighede.
  • Dis omgewingsvriendelik en aanpasbaar vir klein- tot grootskaalse bedrywighede.
  • 'n Uitstekende addisionele energiebron wat huidige hernubare energie-oplossings komplementeer.

 

Eenvoudig, aanpasbaar, vinnig en goedkoop!

"Ons het hierin geslaag deur 'n holistiese benadering, insluitend om te ignoreer wat mense gesê het kan nie gedoen word nie. Die unieke ontwerp gebruik kleiner, slimmer en modulêre heliostate om die koste-uitdaging te oorkom," sê Gauche. "Die heliostate benodig ook geen grond- of siviele voorbereiding nie, wat dus outomaties 'n natuurlike stofonderdrukkingsmeganisme voorsien. Ons gebruik die terme 'plonkable' (neerplakbare) heliostate en 'plonkability' (neerplakbaarheid)."

Veeldoelige, koste-effektiewe kenmerke wat die ekonomie bevorder

Gekonsentreerde sonkrag (CSP) – veral via Helio100 – verskaf skoon elektrisiteit soos nodig, van gemeenskap- tot verbruikerskaal. Daar is boonop die bykomende voordeel van 'n ekonomiese inspuiting danksy die skakeling met plaaslike verskaffers en vervaardigers van die nodige komponente. Dit beteken dat modulêre heliostaatvelde vervaardig en geïnstalleer kan word deur so min as twee mense. Deur dit te dupliseer, kan modulêre opwekker-eenhede aan groter kragaanlegte gekoppel word, meestal met behulp van plaaslike hulpbronne.

Energie vir die toekoms

"Hierdie deurbraak sluit aan by die doelwitte van CRSES en die visie van die Universiteit Stellenbosch om inklusief, innoverend en toekomsgerig te wees," sê prof. Wikus van Niekerk, CRSES-direkteur. "Die ontwikkeling van 'n CSP-bedryf in Suid-Afrika het die potensiaal om die uitdagings rondom die verskaffing van volhoubare energie te help oorkom. Dit kan soortgelyk wees aan die kommersieel suksesvolle ontwikkeling van die Fischer Tropsch-tegnologie by Sasol, waardeur dié maatskappy nou as 'n wêreldleier gesien word. Die Helio100-projek kan beskou word as 'n noemenswaardige stap in hierdie ontwikkelingspad vir Suid-Afrika."

Die toetssentrum sal teen September 2015 voltooi wees en sal aan die CSP-wêreld onthul word op SolarPACES, die toonaangewende internasionale CSP-konferensie.

Die Universiteit Stellenbosch spog met meer as 40 jaar van navorsing oor hernubare energie – gelei deur CRSES en STERG.

  • Vir media-navrae, kontak Amelia Burger van Lemonade Hub by 082 824 8440 of amelia@lemonadehub.co.za, of besoek http://helio100.sun.ac.za vir meer inligting.
  • Klik hier vir 'n artikel wat in die Britse koerant The Guardian verskyn het.