Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Manage PermissionsManage Permissions
|
Version HistoryVersion History
Ingenieurswese Opedag 28 Februarie 2015
Outeur: Liesel Koch
Gepubliseer: 03/02/2015

Die jaarlikse Ingenieurswese Opedag vind Saterdag 28 Februarie 2015 vanaf 09:00 tot 16:00 by die Ingenieurswese-gebouekompleks plaas.

Dié gewilde geleentheid, wat vir baie jare in April plaasgevind het, sal vanaf 2015 saamval met Universiteit Stellenbosch se Opedag.

Die formaat van die Ingenieurswese Opedag sal egter nog dieselfde wenresep van vorige jare volg, met tientalle opwindende en leersame uitstallings en demonstrasies wat die interessante wêreld van die ingenieur sal weerspieël. Hierdie uitstallings en demonstrasies sal deur personeel en studente van die vyf Ingenieursdepartemente aangebied word, naamlik Bedryfs, Elektries & Elektronies, Meganies & Megatronies, Proses (Chemies), en Siviel.

Om te sien hoe ingenieurs op innoverende wyse wetenskap en tegnologie inspan om die wêreld 'n beter plek vir almal te maak, kom loer enige tyd tussen 09:00 en 16:00 in by die Ingenieurswese-gebouekompleks hoek van Banghoekweg en Joubertstraat (skuins oorkant die Verkeersdepartement), Stellenbosch. Die beginpunt is by die groot wit markiestent op die grasperk voor die Ingenieurswese-gebouekompleks. Daar sal besoekers belangrike inligtingspakkette en 'n roetekaart ontvang

'n Toer van al die stalletjies (op jou eie of met 'n student as toergids) neem ongeveer drie uur. Jy kan egter jou toer beplan om aan te pas by die tyd tot jou beskikking.

Toegang is gratis en almal is welkom, onder andere ook skoolgroepe.

Die Ingenieurswese Opedag bied leersame vermaak vir die hele gesin. Hoërskoolleerders en hul ouers sal ook die geleentheid kry om meer uit te vind oor ingenieurswese as studierigting en beroep tydens 'n inligtingsessie oor die Fakulteit Ingenieurswese se graadprogramme (wat deur die loop van die dag herhaal sal word). Hierdie sessies duur 'n halfuur en sal om 09:30, 11:00, 12:30 en 14:00 in die Reitzsaal in die Algemene Ingenieursgebou naby die markiestent plaasvind.

Leerders wat nog vakkeuses moet maak, en oorweeg om ingenieurs te word, moet vir seker bywoon om uit te vind watter kardinale rol goeie prestasie in Wiskunde en Fisiese Wetenskappe speel om vir ingenieurstudie in aanmerking te kom.

'n Paar maatskappye, wat spesifiek gekies is op grond van beurse wat hulle aan voornemende ingenieurstudente beskikbaar stel, sal ook teenwoordig wees.

Vir meer inligting, stuur 'n e-pos aan ingenieur@sun.ac.za.

Kyk gerus hier na 'n kort video van verlede jaar se Ingenieurswese Opedag. 



 

 

Leonie KleynhansLeonie Kleynhans2015-02-17T20:25:40ZIs daar enige ander geleentheid om die ingenieursfakulteit te besoek deur die loop van die jaar, behalwe Saterdag 28 Feb.