Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Musiekdosent stel biografie oor Arnold van Wyk bekend
Outeur: Wayne Muller
Gepubliseer: 05/08/2014

'n Sonderlinge biografie oor die Suid-Afrikaanse komponis en pianis Arnold van Wyk is Saterdag (2 Augustus) in die Fismersaal by die Universiteit Stellenbosch (US) se Konservatorium bekendgestel.

Die biografie, getitel Nagmusiek, kom uit die pen van prof Stephanus Muller, dosent in Musikologie aan die Konservatorium. Van Wyk het ook aan die US Konservatorium doseer.

Die boek bestaan uit drie volumes oor 916 bladsye, en is die mees omvattende biografie van 'n Suid-Afrikaanse komponis tot nog toe.

Van Wyk is op 26 April 1916 op 'n plaas buite Calvinia gebore. Hy het van kindsbeen af klavier gespeel, het in Stellenbosch skoolgegaan en studeer, voordat hy na die Royal Academy of Music in Londen gegaan het.

Hy het daar as komponis begin opgang maak en musiek vir 'n wye verskeidenheid instrumente geskryf. Hy word saam met Hubert du Plessis (1922–2011) en Stefans Grové (1922–2014) beskou as die eerste generasie Suid-Afrikaners wat Westerse kunsmusiek hier gekomponeer het.

Twee eredoktorsgrade is aan Van Wyk toegeken – van die Universiteit van Kaapstad in 1972 en van die US in 1981. Hy het op 27 Mei 1983 gesterf.

In die biografie verweef prof Muller fiksie met feite: Hy het 'n fiktiewe biograaf genaamd Werner Ansbach geskep wat 'n boek oor Van Wyk wil skryf.

Die eerste volume van die biografie is 'n volledige katalogus en werklys van Van Wyk se musiek en manuskripte. Volume 2 bestaan uit 806 eindnotas wat die tekste in Volumes 1 en 3 aanvul, terwyl Volume 3 bestaan uit 98 fragmente wat ook as hoofstukke beskryf sou kon word. Hieronder tel drie chronologieë en drie akademiese referate.

Volgens 'n persverklaring word in die boek nie net oor Van Wyk se lewe en werk geskryf nie, maar is dit ook 'n bepeinsing oor die kuns van biografie, oor Suid-Afrikaanse klassieke musiek tydens apartheid, en die verhouding tussen die lewe en fiksie.

Tydens die boekbekendstelling Saterdag het 'n vriend van prof Muller, die pianis Daniel-Ben Pienaar, Van Wyk se klavierwerk Nagmusiek, waarna die boek genoem is, uitgevoer. Prof Lou-Marie Kruger van die US se Departement Sielkunde het ook 'n gesprek gelei met Pienaar, prof Muller en die uitgewer van die boek, Bronwyn Law-Viljoen van Fourthwall Books.

Prof Muller is ook die hoof van die Dokumentasiesentrum vir Musiek (DOMUS) aan die US.

  • Foto: Denvor de Wee / Die Burger