Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Komiteelid van US se Eoan History Project sterf
Outeur: Wayne Muller
Gepubliseer: 06/02/2014

'n Prominente komiteelid van die Universiteit Stellenbosch (US) se Eoan History Project het op die ouderdom van 79 gesterf. Ruth Fourie het Saterdag 1 Februarie gesterf nadat kanker twee weke gelede by haar gediagnoseer is.

Fourie was getroud met een van die Eoan Groep se bekendste bariton-sangers, Lionel Fourie, wat in 1963 dood is.

Die Eoan Groep is in 1933 begin as 'n kulturele en liefdadigheidsorganisasie vir die bruin gemeenskap van Distrik Ses. Aanvanklik is slegs spraakklasse en fisieke oefeninge aangebied, maar in latere jare het die Eoan Groep teaterstukke, ballette en uiteindelik operas meestal in Kaapstad opgevoer.

Die Eoan History Project is in 2008 van stapel gestuur toe die US se Dokumentasiesentrum vir Musiek (DOMUS) besit geneem het van die Eoan Groep se argief, wat nou in die Konservatorium gehuisves word. Die projek het reeds 'n mondelinge geskiedenisboek, getiteld Eoan – Our Story, oor die Groep opgelewer, asook 'n dokumentêre rolprent deur die filmmaker Aryan Kaganof, An Inconsolable Memory.

As een van die agt lede van die Eoan History Project, het Fourie 'n integrale rol gespeel om DOMUS in kontak te bring met voormalige kunstenaars van die Eoan Groep, in Kaapstad en oorsee. Sy het meeste van die 47 onderhoude met dié kunstenaars gevoer vir Eoan – Our Story, wat in Januarie 2013 uitgereik is.

Ook as deel van die projek het Fourie gewerk aan die samestelling van 'n dubbelalbum van historiese en oorspronklike verhoogopnames van die Eoan Groep se operaproduksies in Kaapstad. Werk aan hierdie album sal in 'n latere stadium voltooi wees.

Prof Stephanus Muller, Hoof van DOMUS, sê die afsterwe van Fourie – amper presies 'n jaar ná die voltooiing van die boek en die rolprent (waarin sy as aanbieder optree) – is vir hom 'n diepe persoonlike verlies.

"Sy was 'n vrou van groot deursettingsvermoë en dapperheid, van beginselvastheid en lojaliteit. Ruth het ons almal aangespoor om harder te probeer, en sy het lank genoeg gelewe om seker te maak dat Eoan se geskiedenis gedokumenteer is vir die nageslag. Dit is deur mense soos Ruth Fourie dat 'n toekoms in Suid-Afrika denkbaar word," het Muller gesê.

Fourie word Vrydag (7 Februarie) vanuit die Metodiste Kerk op Groentemarkplein in Kaapstad begrawe. Sy word oorleef deur haar enigste seun, Enrico, en twee kleinkinders.

  • Cinemuse wys Donderdag 6 Februarie en Donderdag 13 Februarie An Inconsolable Memory om 20:00 by 5 Ryneveldstraat, Stellenbosch. Skakel 021 886 4842 om te bespreek. Lees hier meer oor die rolprent.
  • Lees hier meer oor die boek Eoan – Our Story.

ONDERSKRIF: Ruth Fourie (Foto: Aryan Kaganof); die omslag van Eoan – Our Story.