Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Spelifiëring en sosiale media as katalisator vir studenteleer en betrokkenheid
Outeur: Simbongile Ntwasa
Gepubliseer: 02/05/2025

U word uitgenooi om die middagete Auxin-sessie by te woon wat deur die Sentrum vir Onderrig en Leer aangebied word.


Spreker: Benita Bobo

​Onderwerp: Spelifiëring en sosiale media as katalisator vir studenteleer en ‑betrokkenheid​

​​Datum: 13 Mei 2025

Tyd: 13:10-14:10 

Plek: MS Teams: Join the meeting now


Opsomming van die Auxin:

Hoe hou 'n mens 10 000 eerstejaarstudente geboei wat “gedwing" word om 'n verpligte module te volg? Hoe kan jy digitale nutsmiddels aanwend om die bereiking van leeruitkomstes vir modules, die kenmerke van gegradueerdes en kritieke kruisdissiplinêre uitkomstes aan te help? Een moontlike antwoord is om spelifiëring en sosiale media in te span om studente betrokke te hou terwyl hulle leer.

Spelifiëring behels dat elemente soortgelyk aan dié van spel by leeraktiwiteite geïnkorporeer word met die oogmerk om studentebetrokkenheid en ‑leer te versterk. Dit put uit die teorie van selfbeskikking, wat beklemtoon hoe belangrik onafhanklikheid, bevoegdheid en verbandhoudendheid is. Omdat spelifiëring duidelike doelwitte, onmiddellike terugvoer en geleenthede vir sosiale interaksie verskaf, kan dit studente sterker agentskap en betrokkenheid in groot, onpersoonlike klasse laat ervaar.

In hierdie aanbieding beklemtoon ek ook hoe ek uit die sosiale konstruksionisme as leerteorie put, en uit transformerende leer as pedagogiese benadering, om 'n raamwerk vir die opstelling van outentieke leerervarings te vorm. Volgens die sosiale konstruksionisme vind die doeltreffendste leer plaas wanneer studente kennis aktief – deur interaksie en samewerking in outentieke kontekste – konstrueer. Die transformerende leerteorie ondersteun hierdie benadering deurdat dit beklemtoon hoe belangrik kritiese nadenke is, wat deur interaktiewe aktiwiteite gestimuleer kan word.

Ek stel die volgende vraag om nadenke en gesprek onder deelnemers aan te wakker: Hoe kan akademici spelifiëring en sosialemediaplatforms inspan om hulle onderrig, leer en assessering te verryk? Die hoop is dat hierdie aanbieding belangstelling en gesprek sal aanvuur en idees sal oplewer oor hoe akademici dit in hulle eie dissiplinêre kontekste sou kon oorweeg.


Voordat Benita senior adviseur by die Sentrum vir Onderrig en Leer geraak het, was sy lektor en koördineerder vir institusionele modules in algemene onderwys, en lektor sowel as koördineerder vir institusionele modules in diensleer by die Afdeling Sielkunde. Haar onderrig is begrond op die konstruktivisme en sosiale kontekstuele leerteorieë. Gevolglik glo sy daarin om in haar onderrig uit die geleefde werklikhede van haar studente te put.