Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Rabia Abba Omar ondersoek die verband tussen kuns en aktivisme
Outeur: Corporate Communications and Marketing
Gepubliseer: 22/08/2024

Ter viering van Vrouemaand laat die Universiteit Stellenbosch (US) die kollig val op buitengewone studente en personeel op ons kampus wat hulle vir vroueregte en geslagsgelykheid beywer. Deur hulle toewyding en leierskap inspireer en bevorder hulle positiewe verandering. Rabia Abba Omar is ʼn navorser en kurator wat ʼn tweede meestersgraad aan die US doen terwyl sy as koördineerder by die Frederik Van Zyl Slabbert-instituut (FVZS-instituut) vir Studenteleierskapontwikkeling werk. Sy is ʼn uitgesproke voorstander van geslagsgelykheid en vroueregte – haar huidige navorsing bekyk die artistieke uitbeelding van geweld teen vroue in Suid-Afrika.

Kan jy ons meer oor jou navorsingsveld vertel?

ʼn Deurlopende tema van my navorsing is om sin te probeer maak van die verlede en hoe dit in die hede ontvou, en te kyk na hoe ons ons lewens/wêrelde in die nadraai van geweld aanmekaar heg. Oor die algemeen hou ek daarvan om te dink aan/met die oseaan, geheue, feminisme, argiewe, geskiedenisse van verslawing, sosiale media en die geskiedenis van objekte.

In my huidige meestersgraad-navorsing as ʼn gesamentlike genoot van die Sentrum vir die Studie van die Nadraai van Geweld en die Soeke vir Reparasie aan die US en die Exeter-universiteit se Imagining Futures of Un/Archived pasts-projek, ondersoek ek ʼn denkwyse oor liggame as argiewe, asook hoe die werk van Gabrielle Goliath en Judith Mason die lang geskiedenis van geweld teen vroue in Suid-Afrika kunstig uitbeeld. Hierdie werk bring baie van die onderwerpe byeen wat ek geniet om na te vors – argiewe, feminisme, beliggaming en affek, geskiedenis van gewelddadige gebeurtenisse en visuele kunste. Die navorsing wat ek in my rol as die koördineerder vir burgerskapbetrokkenheid by die Sentrum vir Studentelewe en -leer se Frederik Van Zyl Slabbert-instituut doen, maak my ook opgewonde. Ek kan navorsing doen hoe mense werk daarvan maak om ons wêreld deur die lense van sosiale geregtigheid, menseregte en demokrasie ʼn beter plek te maak.

Wat dink jy is die grootste struikelblokke vir die oplossing van geslagsgebaseerde geweld in Suid-Afrika?

ʼn Onwilligheid om patriargale en vrouehaat-oortuigings wat die verkragtingskultuur in Suid-Afrika stu te verander en uit te daag is een van die grootste struikelblokke vir die oplossing van geslagsgebaseerde geweld. Deel hiervan is die afleer van hoe ons oor ander dink en met ander kommunikeer en om ander, nie-gewelddadige maniere van bestaan aan te leer. En dit kan wissel van die klein gedagtes oor mense wat ons nie uitdaag nie, soos om die manier waarop mense aantrek of optree te polisieer asof hulle 'daarvoor vra', tot die baie eksplisiete gewelddadige dade van verkragting en moord. As ons nie gaan veg teen ʼn gewelddadige kultuur wat die idee laat voortbestaan dat iemand weens hulle ras/klas/geslag/seksualiteit of hoe hulle aantrek of optree 'daarvoor vra' nie, sal ons nooit die stryd teen geslagsgebaseerde geweld in Suid-Afrika kan wen nie.

Hoe kan akademiese instellings die loopbane van vroue beter ondersteun en koester, veral in kampvegterrolle?

Myns insiens is daar twee duidelike aspekte. Eerstens is dit belangrik om jonger personeel te koester en dit sluit in die beskikbaarstelling van finansiering vir permanente poste wat aan jonger personeellede die vermoë gee om binne ʼn rol en omgewing te groei. Dit is onmoontlik om vroue se loopbane behoorlik te ondersteun en te koester as ons net korttermynkontrakte gaan kry. Tweedens moet kindersorg gratis aan alle personeellede beskikbaar gestel word (insluitend op alle nagraadse vlakke). Vroue behoort nie tussen die (dikwels) ongelyke gesinsorg-las wat op hulle geplaas word en hulle loopbane verskeur te voel wanneer hulle besluit om kinders te hê nie. Voorts moet erkenning en ondersteuning verleen word aan die navorsingswerk van nie-akademiese personeellede, wat dikwels baie voorspraakwerk binne die universiteit doen.

Watter toekomsplanne en toekomstige projekte maak jou opgewonde?

Tans sien ek die meeste daarna uit om my meestersgraad te finaliseer en in te dien. Dié projek het my genoop om stadiger en versigtiger te dink oor hoe ons geweld en die lang geskiedenis van geslagsgebaseerde geweld in Suid-Afrika visueel (en in klank) verteenwoordig. Sodra ek dit ingedien en gegradueer het, wil ek graag my werk in akademiese en nie-akademiese formate publiseer.

Ek het drie projekte waarby ek so gou moontlik moet uitkom! Die een is as medeskrywer van ʼn hoofstuk vir ʼn komende boek oor #FeesMustFall en die ander is ʼn hoofstuk oor die Real Housewives of South Africa-reeks vir ʼn bundel van die Burning Down the House-konferensie. Ek wil ook aan die Imagining Futures of Un/Archived Pasts-projek teruggee deur ʼn paar bevindinge van my meestersgraad tot dié bewaarplek by te dra.

Hoe vier jy Vrouedag en Vrouemaand?

Hierdie Vrouemaand is ek baie opgewonde oor ons jaarlikse FVZS-erelesing – ek gaan die gesprek tussen die spreker en Nobelpryswenner Tawakkol Karman en prof Cheryl Hendricks, Uitvoerende Direkteur van die Instituut vir Geregtigheid en Versoening aan die US, modereer. Namatai Kwekweza, wat die eerste Kofi Annan NextGen Democracy-prys gewen het, sou ons tweede spreker vir die lesing gewees het, maar sy word deur haar werk as ʼn menseregte-kampvegter in Zimbabwe besig gehou en kan nie nou hier wees nie. Ek is ook opgewonde dat vanjaar se FVZS-erelesing deel vorm van die 6de Internasionale Jeugdenkskrum en Nobel-simposium, die eerste internasionale jeugdenkskrum op die vasteland, en dat die FVZS-instituut ʼn vennoot in die projek is. In my laaste week van Augustus gaan ek by baie inspirerende vroue leer en saam met hulle werk.

Wat beteken ʼn balans tussen werk en die lewe vir jou en hoe bereik jy dit?

My navorsing en my 'alledaagse' lewe vloei dikwels ineen – dit blyk dat hulle te nou verwant, te belangrik en te persoonlik is vir ʼn duidelike skeidslyn. Die grootste les wat ek geleer het, is dat om elke dag ʼn bietjie op te daag beter is as om glad nie op te daag nie. Dit geld ook my persoonlike sorg en dié van die mense in my lewe. Ek voeg elke dag iets op my doenlysie by wat belangrik vir my is – soms is dit iets so eenvoudig soos om oor middagete te stap en ʼn croissant te gaan koop, of om doelbewus tyd te maak om vir ʼn vriend sop te maak wanneer hulle siek is.

FOTO: Stefan Els