Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Erasmus+-mobiliteitsprogram grensverskuiwend vir US-personeellid
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 11/07/2024

​Sy deelname aan die onlangse Erasmus+-personeelmobiliteitsprogram* in Turkye het nie net sy beroepsontwikkeling 'n hupstoot gegee nie, maar hom ook met 'n leeftyd se herinneringe gelaat. So sê Sibusiso Lukhele, projekkoördineerder in die kantoor van die Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie.

Lukhele was een van twee personeellede wat die Universiteit Stellenbosch (US) by dié spesiale Erasmus+-geleentheid vir die beroepsontwikkeling van steundienstepersoneel verteenwoordig het. Gedurende die program, wat van 13 tot 16 Mei 2024 by Sabancı-universiteit in Istanbul aangebied is, kon deelnemers met eweknieë van Sabancı sowel as universiteite in Nederland, Swede, Rusland en die Tsjeggiese Republiek skakel.

Opvoedkundig in vele opsigte

Die hooftema van die program was om meer te leer oor die Turkse hoëronderwysstelsel en hoe dit studente vir 'n immer veranderende wêreld toerus, verduidelik Lukhele. “By Sabancı-universiteit moet alle studente byvoorbeeld 'n module in gemeenskapskakeling volg as 'n vereiste om te gradueer. As deel van die module, onderneem die studente projekte wat in verskillende gemeenskappe in die land geïmplementeer kan word."

Beroepsontwikkelingsessies het oor verskeie onderwerpe gehandel, waaronder die transformerende krag van kunsmatige intelligensie in die hoër onderwys, beter besluitneming, die onthulling van rassistiese wanbegrippe, en aanpasbaarheid in 'n dinamiese wêreld. “Vir my was die werksessie oor kommunikasie met Generasie Z veral insiggewend," sê Lukhele. “Die sessie is deur Generasie Z-studente van Koç-universiteit [ook in Istanbul] gefasiliteer en het my help verstaan hoe dié postmillenniërs na die wêreld kyk. Ons het geleer dat Generasie Z hulle geestesgesondheid en welstand prioritiseer en kwessies soos sosiale geregtigheid en medemenslikheid op prys stel. Aangesien ek daagliks met Generasie Z-studente te doen kry en boonop 'n Generasie Z-dogter grootmaak, het die sessie my help verstaan wat die beste manier is om met hierdie jongmense te kommunikeer."

Sy gesprekke met akademici en steunpersoneel van die ander universiteite het ook sy netwerkvaardighede geslyp, voeg Lukhele by. “My netwerkvaardighede is nou sterker, wat my in staat stel om beter verhoudings met verskillende US-belanghebbendes te bou."

Verkeerde stasie, sokker en sonsondergange

Benewens die formele program het hy ook die geleentheid benut om Istanbul ten volle te beleef. “Ek het besluit om die een oop dag op die program my toeristedag te maak. Ek het by die verkeerde treinstasie afgeklim. Wat 'n affêre om in 'n stad met 20 miljoen mense te verdwaal!" lag hy. “Maar uiteindelik was dit 'n bedekte seën, want ek het 'n klomp verskillende dele van Istanbul gesien. Die toeriste-aantreklikhede was alles wonderlik, maar as 'n sokkergeesdriftige, was my hoogtepunt om die drie stadions te sien waar Turkye se grootste sokkerspanne – Fenerbahçe, Beşiktaş en Galatasaray – speel.

“Wat my ook lank sal bybly, is die laat sonsondergange," sê Lukhele. “Dit was laat lente, en sononder was eers teen 20:30, so ek kon 'n paar laat aandetes by interessante restaurante en kafees geniet."

Die program het beslis heelwat waarde tot sy beroepslewe toegevoeg, sê hy. “Deelname aan die Erasmus+-program dra aansienlik by tot jou ontwikkeling, en jy leer meer oor die ander universiteite. Sodoende vergelyk jy boonop die US met ander instellings en besef jy net weer dat ons universiteit waarlik wêreldklas is," sê hy ten slotte.

Meer oor Erasmus+

Erasmus+ is 'n program van die Europese Kommissie se Bestuursagentskap vir Onderwys en Kultuur. Dit bied toekennings vir 'n wye verskeidenheid aktiwiteite, met 'n sterk klem op internasionale samewerking tussen vennootlande, veral op die terrein van hoër onderwys. Sodoende skep die program geleenthede vir wêreldwye institusionele samewerking en mobiliteit vir universiteitstudente en -personeel. Sedert Erasmus+ bekend gestel is, het die Universiteit Stellenbosch reeds suksesvolle mobiliteitsprojekte met meer as 25 instellings, waaronder sowel bestaande as nuwe vennote, onderneem.