'n Nuwe antibakteriële lipopeptied wat deur die bakterie Serratia marcescens geproduseer word, blyk hoogs effektief te wees om Staphylococcus aureus – een van die belangrikste patogene wat by mense voorkom – te dood.
Staphylococcus aureus is een van die vyf mees algemene oorsake van hospitaalverworwe infeksies en is dikwels die oorsaak van lewensbedreigende infeksies ná chirurgie. Sedert die bekendstelling van antibiotika in die vroeë 1940s, het S. aureus nou weerstandigheid ontwikkel teen die meeste klasse antibiotika, insluitend penisillien. Oor die afgelope ses dekades het daar egter slegs twee nuwe klasse antibiotika wat op unieke maniere werk, op die mark gekom. Een van bogenoemde, daptomisien, behoort ook tot antibiotika se lipopeptiedklas.
In 'n artikel wat onlangs in Microbiology Spectrum gepubliseer is, verskaf Dr. Tanya Decker (neé Clements) van die Universiteit Stellenbosch (US) die eerste insig in die werking van die lipopeptied serrawettin W2-FL10, 'n derivaat van Serratia marcescens. Sy het aangetoon dat hierdie lipopeptied die selmembraan van S. aureus teiken en letsels veroorsaak wat lei tot die uitlek van intrasellulêre komponente en uiteindelik seldood.
Sy het ook aangetoon dat serrawettin W2-FL10 nie toksies is vir soogdierselle nie, wat dit dus 'n belowende terapeutiese middel maak vir die behandeling van bakteriële infeksies by mense.
Verder, aangesien die lipopeptied struktureel baie kleiner is as daptomisien (vyf aminosure en 'n C10-vetsuurketting in vergelyking met 13 aminosure en 'n C10-vetsuurketting), sal serrawettin W2-FL10 heel waarskynlik teen 'n veel laer koste vervaardig kan word.
Hoekom is sommige lipopeptiede antimikrobies?
Dr. Decker wat tans 'n nadoktorale navorser by die Helmholtz Institute for Pharmaceutical Research Saarland in Duitsland is, het in 2017 reeds begin werk op serrawettin W2-FL10 as lid van Prof. Wesaal Khan se navorsingsgroep in die US se Departement Mikrobiologie. Háár werk het gevolg op die werk van 'n ander nagraadse student in hierdie groep, Dr. Thando Ndlovu. Hy het verskeie bakteriële stamme geïsoleer uit afvalwatermonsters waarvan die bio-oppervlakaktiewe stowwe effektief was teen antibiotikaweerstandige en siekteveroorsakende bakterieë. In besoedelde omgewings, word bio-oppervlakaktiewe stowwe natuurlik deur bakterieë geproduseer om hulle teen ander bakterieë te beskerm en die oorhand oor hulle te kry.
Decker se navorsing was toe daarop gemik om die antimikrobiese aktiwitieit van Serratia-afgeleide lipopeptiede te verstaan. Sy het hoofsaaklik gefokus op gepigmenteerde en nie-gepigmenteerde S. Marcescens-stamme en het getoon dat hierdie stamme ook 'n wye reeks breëspektrum antimikrobiese verbindings produseer. Hieruit is bevind dat die lipopeptied serrawettin W2-FL10 'n belowende kandidaat vir verdere navorsing oor sy antimikrobiese eienskappe is.
By die Helmholtz Institute in Germany, sit Decker haar navorsing voort oor die ontwikkeling van nuwe natuurlike antimikrobiese middels... anti-infektiewe natuurlike produkte uit mikrobiese gemeenskappe.
Op die foto bo: ʼn Skandeer-elektronmikroskopiebeeld van Staphylococcus aureus na ʼn uur lange behandeling met 25 mg/mL serrawettin W2-FL10. ʼn Vergroting (500 nm) van beskadigde S. Aureus-selle word in die rooi blokkie aangedui. Fotokrediet: Tanya Decker by die Eenheid vir Elektronmikroskopie, Universiteit van Kaapstad