Prof Rulof Burger van die Departement Ekonomie in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe het Dinsdag 7 Mei 2024 sy intreerede gelewer. Die titel van sy lesing was 'Van data tot deurbraak: die rol van ekonome in die era van masjienleer'.
Burger het met die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking gesels oor hoe hy mikro-ekonomiese teorieë en ekonometriese metodes (die gebruik van wiskundige en statistiese metodes om ekonomiese data te ontleed) kombineer om sin te maak van data oor menslike gedrag en om die impak van spesifieke beleidsintervensies te bepaal.
Vertel ons meer oor jou navorsing en wat jou belangstelling in hierdie spesifieke vakgebied geprikkel het.
My navorsing kombineer mikro-ekonomiese teorieë en ekonometriese metodes om die besluite wat individue neem, te probeer verstaan, voorspel en om maniere te vind om dit te beïnvloed. Ek fokus hoofsaaklik op gedrag op die gebied van arbeid, onderwys en gesondheid, en gewoonlik binne die konteks van ontwikkelende lande. Ek was nog altyd geïnteresseerd in gedrag en het dit selfs in 'n stadium oorweeg om sielkunde te studeer voordat ek begin het om ekonomie en statistiek te studeer. As 'n gelukkige toeval het die ekonomie onlangs meer insigte uit die sielkunde in ons modelle in die opkomende veld van gedragsekonomie begin inkorporeer – dit is ook een van die modules wat ek doseer. As student was ek dadelik aangetrokke tot die manier waarop ekonome wiskunde en domeinkundigheid meng om teorieë oor menslike gedrag te formuleer en dan data gebruik om hierdie teorieë te toets. Ek was ook baie bevoorreg om dosente te hê wat opgewonde was oor hulle werk.
Hoe sou jy die relevansie van jou werk ten opsigte van arbeid, onderwys en gesondheid beskryf?
Die meeste van my navorsing is baie beleidsgerig. Ek het vroeër in my loopbaan hoofsaaklik data gebruik wat in die openbaar beskikbaar was om goed soos die oorsake van werkloosheid, loonongelykheid, diskriminasie en die omvang van ekonomiese mobiliteit te bestudeer. Ek het egter meer onlangs ook veldproewe begin doen deur nuwe eksperimentele data te versamel om die impak van spesifieke intervensies te bepaal deur verewekansigde beheerde proewe (proewe waar deelnemers lukraak toegewys is om 'n intervensie te ontvang of nie te ontvang nie) te gebruik. Ek vind dit is 'n nuttige manier om te verseker dat ons op toepaslike en skaalbare beleidsintervensies fokus. Ons het byvoorbeeld in samewerking met die Departement van Arbeid laekoste-indiensnemingstrategieë getoets, soos die verskaffing van verwysingsbrieftemplate en werksoekhulpmiddels aan jong werksoekers, wat doeltreffend was en by verskeie arbeidsentrums en deur NRO's in werking gestel is wat op jeugindiensneming fokus.
Hoe help die instrumente en teorieë wat in die ekonomie ontwikkel word, ons om sin te maak van data oor menslike gedrag?
Ekonomiese teorieë aanvaar tradisioneel dat mense rasioneel is – dat hulle in hul eie beste belang optree – wat baie waargenome gedrag suksesvol kan verklaar. Daar is egter ook oortuigende bewyse dat mense soms op maniere optree wat stelselmatig afwyk van wat hierdie aanname sou voorspel. Oor die afgelope twee dekades het ekonome meer aandag gegee aan navorsing in sielkunde en neurowetenskap, wat gelei het tot meer realistiese modelle wat die reeks motiverings wat gedrag dryf, uitbrei. Hierdie modelle het ook maniere voorgestel om die gedrag van individue in 'n rigting te stuur wat nouer belyn is met hulle langtermynbelange.
Ekonome het ook verskeie ekonometriese instrumente ontwikkel wat die problematiese werklike data wat ons gebruik om ons teorieë te toets, kan hanteer. Kwessies soos metingsfoute, steekproefkeusevooroordeel, omgekeerde oorsaaklikheid en weggelate veranderlike vooroordeel is baie algemeen in data wat deur menslike gedrag geproduseer word en vereis toepaslike instrumente om misleidende gevolgtrekkings uit data te vermy. Die kombinasie van ekonomiese teorieë en ekonometriese tegnieke het modelle opgelewer en gevalideer wat 'n breë spektrum van gedrag suksesvol kan verklaar, insluitende die bestaan van finansiële borrels, bedingingsmag tussen 'n man en vrou, die faktore wat lande kwesbaar maak vir burgeroorloë, en waarom so baie van ons gimnasiumlidmaatskap koop en dit dan nie gebruik nie.
Jy is reeds baie jare in die uitdagende hoëronderwysomgewing. Hoe bly jy gemotiveerd wanneer dinge moeilik raak?
Die geleentheid om interessante vrae te stel en op te los, hou my gemotiveerd. Dit is lonend om te sien hoe my navorsing geïmplementeer word of beleidsdebatte beïnvloed. Die verantwoordelikhede van onderrig, mentorskap en toesig oor die volgende generasie ekonome hou my ook gemotiveerd.
Watter aspekte van jou werk is vir jou die lekkerste?
Ek geniet die meeste aspekte van my werk. Ek koester die geleentheid wat ek het om my in navorsingsprojekte te verdiep, maar geniet ook die interaksie met ons Universiteit se buitengewoon talentvolle studente.
Vertel ons iets opwindends oor jou lewe wat mense nie sou verwag nie.
Ek vermoed dit is dalk meer verrassend as opwindend, maar my werkgeskiedenis sluit kort tydperke in as uitsmyter by 'n kroeg in die Neelsie en as slaptoustapper in die sirkus.
Wat doen jy in jou vrye tyd?
Ek geniet bergfietsry, om flieks saam met my kinders kyk, musiek te luister en saam met vriende oor aandete en wyn te kuier.
- Foto deur Ignus Dreyer (Die Stellenbosch-sentrum vir Fotografiese Dienste).