Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US Dosente Gekies vir Nasionale Onderriggenootskappe
Outeur: Dr Karin Cattell-Holden
Gepubliseer: 15/04/2024

​Die “Teaching Advancement at Universities" (“TAU") Genootskapsprogram streef daarna om 'n korpus onderriggenote in 'n wye verskeidenheid dissiplines oor 'n 19-maande program te bou. Die program sluit blokweekkontaksessies, individuele projekte in eie onderrig- en leeromgewings, groepprojekte en reflektiewe verslae in. Deelnemers word uit al die Suid-Afrikaanse universiteite gekies.

Twee US dosente is vir die 2024-2025 TAU program gekies.

Prof. Elize Archer is mede-professor in Gesondheidsberoepe-onderwys (GBO) in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe. Haar rolle in die Sentrum vir Gesondheidsberoepe Onderwys behels toesig oor onderrig-leer-assessering in die Simulasie- en Kliniese Vaardighede Eenheid, klasgee vir en studiebegeleiding van studente in die Meesters in GBO-program, en professionele leer vir dosente in die Fakulteit. Sy begelei ook doktorale studente in GBO. Prof. Archer is tans die President van die Suider-Afrikaanse Vereniging van Gesondheidsopvoeders (“SAAHE").

Sommige van prof. Archer se huidige navorsingsprojekte fokus op assessering en die onderrig en leer van empatie- en kommunikasievaardighede. Vir haar TAU-genootskap sal sy aan die ontwikkeling van interaktiewe en hibriede kursusse vir dosente se professionele leer werk.

Dr. Shantal Windvogel is 'n senior dosent in die Afdeling Mediese Fisiologie in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, waar sy mediese fisiologie aan geneeskunde- en gesondheidswetenskappestudente doseer. Sy is 'n studiebegeleier vir Honneurs-, Meesters- en doktorale studente en modulesameroeper vir voorgraadse fisiologiemodules. Haar navorsingsfokusareas sluit in die gevolge van nikotienblootstelling, inheemse plante, antioksidante, longontwikkeling, en die ondersoek na risikofaktore vir kardiovaskulêre siektes. Daarbenewens is sy betrokke by die bevordering van aktiewe burgerskap van personeel en studente en transformasieleer deur sosiale impakinisiatiewe soos “Open Doors to Future Possibilities".

Meer inligting oor die TAU Genootskapsprogram is beskikbaar van dr. Karin Cattell-Holden by kcattell@sun.ac.za .