Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Afrika- bioakoestiek konferensie bring navorsers wat diereklanke ondersoek, byeen
Begin: 02/11/2020, 08:00
Einde: 05/11/2020, 17:00
Kontak:Dr Tess Gridley -
Plek: Online / Aanlyn

Waarom is klank vir visse belangrik? Wat is die jongste insigte oor die gehoor en gehoorpersepsie van voëls, en beteken 'n baba se huil iets spesifiek?

Bogenoemde is maar drie van die interessante onderwerpe wat gedurende die tweede Afrika-konferensie oor bioakoestiek bespreek gaan word. Die konferensie vind vanaf 2 tot 5 November plaas en word aangebied deur Sea Search en die Universiteit Stellenbosch se departement Plant- en Dierkunde.

Op die program is meer as 80 aanbiedings deur onder meer leidende wetenskaplikes van Afrika en die res van die wêreld. Ander onderwerpe soos hoekom diere sing, die afluister van onderlinge primaatkommunikasie, en 'n spesiale sessie oor die kernaspekte van bioakoestiek, wat navorsingsmetodes en data-insameling, gemik op niespesialiste en studente, insluit.

Dr Tess Gridley, stigter van die African Bioacoustics Community en mededirekteur van Sea Search, sê die inisiatief is 'n proaktiewe stap in die uitbouing van hierdie wetenskapsveld in Afrika: “Navorsers in Afrika het toegang tot 'n wye reeks klankryke spesies met interessante gedrag en unieke omgewings wat beter beskerming vereis. Die toename in industrialisasie het geraasbesoedeling tot gevolg wat gedrag kan verander en stres kan veroorsaak. Daar is dus baie redes vir wetenskaplikes om die geleenthede wat bioakoestiek bied, te ontgin."

Sy sê een van die primêre redes vir die ontwikkeling van die African Bioacoustics Community wat in Maart 2018 gestig is, is om opleidingsgeleenthede vir Afrika studente te skep: “Met beperkte toegang tot fondse, word wetenskaplikes in Afrika beperk omdat hulle nie internasionele konferensies kan bywoon nie. Gevolglik loop ons geleenthede om van mekaar te leer en met kundiges in die vakgebied te netwerk, mis," sê sy.

Die doel is om hierdie veld in Afrika uit te bou deur 'n platform te verskaf vir mense wat op verskillende aspekte van bioakoestieknavorsing fokus, waar interaksie kan plaasvind en netwerke gevorm kan word. Hierdie platform sluit wetenskaplikes uit diverse velde, studente, omgewingspraktisyns, beleidmakers en die algemene publiek in.

Aangesien bioakoestiek al hoe belangriker in bewaringswetenskap word, sal hierdie jaar se konferensie ook aansluit by die Bewaringsimposium op Woensdag 4 November. Een van die hoogtepunte is 'n sessie oor hoe akoestiese monitering aangewend word in die beheer van onwettige aktiwiteite soos ontbossing, stroping en onwettige visvangtegnieke, soos die gebruik van plofstowwe.

Ander aktiwiteite sluit ook 'n filmvertoning in wat professionele, sowel as amateur filmmateriaal van agter-die-skerms-gebeure wys en insig in die navorsingsveld van bioakoestiek bied, én ook 'n reële netwerkgeleentheid in Stellenbosch wat aan Covid-19 riglyne sal voldoen.

Meer inligting en registrasie

Web:  https://africanbioacoustic.wixsite.com/abcommunity  

Instagram: @africanbioacoustics https://www.instagram.com/africanbioacoustics

Twitter: @Afribioacoustic https://twitter.com/AfriBioacoustic

Facebook: https://www.facebook.com/africanbioacousticscommunity