Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe netwerk vir Matie-vroue
Begin: 26/08/2020, 13:00
Einde: 26/08/2020, 14:00
Kontak:Fika Ngonzo -
Plek: Online | Aanlyn

​Dit is Vrouemaand en die Afdeling Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge van die Universiteit Stellenbosch (US) vier dit met ‘n nuwe netwerk vir al ons uitstaande Matie-vroue. Sluit gerus by ons aan vir die amptelike bekendstelling van die Stellenbosch Vroue-alumnae Netwerk (in Engels SWAN).

SWAN is daarop gemik om vroue bymekaar te bring deur mentorskapprogramme, leierskapopleiding, rondetafelbesprekings en vele meer om netwerke tussen verskillende groepe vroue in ‘n verskeidenheid bedrywe moontlik te maak – en natuurlik wil ons terselfdertyd graag pret hê!

Ons hoofspreker is ‘n inspirerende Matie-vrou in eie reg, dr Marlene le Roux. As die huidige uitvoerende hoof van die Artscape Theatre Centre in Kaapstad, is haar passie bloot om kuns en kultuur te gebruik om minderbevoorregte groepe te bemagtig en om ‘n verskil in ander se lewens te maak. Sy is die medestigter van die Women’s Achievement Network for Disability, ‘n Suid-Afrikaanse gestremdheid en vroueregte-aktivis, en word erken as een van Suid-Afrika se invloedrykste vroue. Dr Le Roux was al Shoprite / Checkers Vrou van die jaar, het die Chevalier des Ordre des Arts et des Lettres, ‘n Franse toekenning in die uitvoerende kunste, ontvang asook vele ander internasionale en nasionale toekennings (maar ons is seker dat dr Le Roux dit hoog op prys stel dat sy al twee keer aangewys is as US-alumnus van die jaar.)

Nog ‘n suksesvolle alumna, dr Nthabiseng Moleko, is die fasiliteerder van die bespreking. Wanneer dr Moleko nie klasgee in Statistiek en Ekonomie aan die Universiteit van Stellenbosch se Bestuurskool nie, is sy ‘n voorstaander van vroueregte as kommissaris van die Kommissie vir Geslagsgelykheid.
Sy is ‘n gereelde kommentator as ‘n ontwikkelingsekonoom en denkleier oor kwessies van nasionale ontwikkeling, ekonomiese geregtigheid en die gebruik van finansiële markte om inklusiewe groei te bevorder en ongelykheid te verminder.

Datum: Woensdag 26 Augustus 2020
Plek: Aanlyn
Tyd: 13:00–14:00
RSVP: E-pos alumni@sun.ac.za om te RSVP teen Vrydag 21 Augustus.
(‘n Skakel na die geleentheid, tesame met die huisreëls, word na ontvangs van jou RSVP aan jou gestuur.)

Ons sien uit daarna om jou aanlyn te verwelkom.