Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Jaarlikse Menseregtelesing 2019
Begin: 29/08/2019, 18:00
Einde: 29/08/2019, 20:00
Kontak:Yolandi Filander - 021 808 4853
Plek: JC de Wet Hall, Old Main Building, Faculty of Law, c/o Victoria and Ryneveld street

​Tema: "Verantwoordingspligtigheid vir Openbare Hulpbronne: Die Rol van die Ouditeur-Generaal" 

Die ouditeur-generaal van Suid-Afrika, mnr Thembekile Kimi Makwetu, sal vanjaar die spreker wees by die Jaarlikse Menseregtelesing van die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Regsgeleerdheid op 29 Augustus 2019.

Die kantoor van die ouditeur-generaal van Suid-Afrika is een van die staatsinstellings verantwoordelik vir die ondersteuning van grondwetlike demokrasie ingevolge artikel 181(1) van hoofstuk 9 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996. Dit speel ’n noodsaaklik rol in die beskerming van die welstand van Suid-Afrika se openbare finansies.

“Verkwistende besteding, finansiële wanbestuur en korrupsie keer noodsaaklike hulpbronne weg van die verwesenliking van al die regte vervat in die Handves van Regte, en ondermyn openbare vertroue in die instellings van grondwetlike demokrasie,” sê professor Sandra Liebenberg wat die HF Oppenheimer-leerstoel in Menseregte in die Fakulteit Regsgeleerdheid aan die US beklee.

In sy mees onlangse verslag, identifiseer die ouditeur-generaal 'n afwesigheid van verantwoordings-pligtigheid as die belangrikste oorsaak van die onbevredigende uitkomste van oudits van plaaslike regering. Volgens Liebenberg, hou die agteruitgang van munisipale verantwoordingspligtigheid vir finansiële en prestasiebestuur verreikende gevolge in vir plaaslike regering – veral vir dié sfeer van regering se vermoë om bekostigbare dienste aan alle Suid-Afrikaners op 'n volhoubare wyse te lewer. “Hierdie dienste maak deel van die sosio-ekonomiese regte uit wat die staat grondwetlik verplig is om aan te voldoen ingevolge die Handves van Regte," meen Liebenberg.

Beduidende wysigings tot die Wet op Openbare Oudit 25 van 2004, wat op 1 April 2019 in werking getree het, gee groter slaankrag aan die kantoor van die ouditeur-generaal. Hierdie wysigings bemagtig die ouditeur-generaal om vermoedelik materiële ongerymdhede wat uit ’n oudit voortgespruit het, na ’n toepaslike openbare liggaam vir ondersoek te verwys, sowel as om die gepaste bindende remediërende aksie te neem om te verseker dat verliese wat die staat gely het, verhaal kan word waar moontlik.

Gedurende die 2019 Jaarlikse Menseregtelesing, sal mnr Makwetu die rol van die ouditeur-generaal in die verantwoordingspligtigheid vir openbare hulpbronne aanspreek. Die lesing word deur professor Sandra Liebenberg en professor Nicola Smith, die dekaan van die US se Fakulteit Regsgeleerdheid, aangebied met die ondersteuning van die regsfirma Webber Wentzel.

Mnr Makwetu is 'n gekwalifiseerde geoktrooieerde rekenmeester met 'n BSocSc-graad van die Universiteit van Kaapstad, asook 'n honneursgraad in Rekeningkundige Wetenskap (Hons. BCompt) van die Universiteit van Natal. Deur die loop van sy loopbaan het mnr Makwetu by Standard Bank, Nampak, Liberty en Metropolitan Life gewerk. Hy was die direkteur van Deloitte se forensiese eenheid voor sy aanstelling as adjunk-ouditeur-generaal in die kantoor van die ouditeur-generaal van Suid-Afrika onder Terence Mncedisi Nombembe, wat van 2006 tot 2013 die pos van ouditeur-generaal beklee het. Mnr Makwetu is op 1 Desember 2013 as die nuwe ouditeur-generaal van Suid-Afrika vir 'n termyn van sewe jaar aangestel.

Vir meer inligting, skakel professor Sandra Liebenberg by (021) 808 9076 of kontak haar per e-pos by sliebenb@sun.ac.za.