Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Vind uit oor studievelde in die natuurwetenskappe by US Wetenskapwinterweek
Begin: 23/06/2019, 08:00
Einde: 27/06/2019, 17:00
Kontak:Ntsiki Langa - 021 808 2681
Plek: Faculty of Science, Stellenbosch University

Die Fakulteit Natuurwetenskappe by die Universiteit Stellenbosch gaan vanjaar weer sy gewilde Wetenskapswinterweek aanbied vir graad 11- en 12-leerders wat belangstel in die wiskundige wetenskappe, lewens- of fisiese wetenskappe.

Die Wetenskapswinterweek, wat van 23-27 Junie 2019 plaasvind, bied leerders die geleentheid om eerstehandse ervaring op te doen oor BSc-graadprogramme in die Fakulteit Natuurwetenskappe en loopbaanopsies wat daaruit voortspruit. Leerders word onder andere blootgestel aan studievelde soos chemie, fisika, geoinformatika, sportwetenskap, plant- en dierkunde, wiskunde, toegepaste wiskunde, rekenaarwetenskap, menslike lewenswetenskappe, aardwetenskappe, datawetenskap, bioinformatika, molekulêre biologie en biotegnologie.

Die hoogtepunt van die week is 'n geleentheid by name “Afspraak met 'n wetenskaplike", waar leerders met professionele natuurwetenskaplikes uit 'n wye veld van industrieë en instellings, kan gesels en uitvind hoe 'n aanvanklike BSc-graad 'n wegspringplek kan wees vir 'n loopbaan in die natuurwetenskappe.

Volgens Me Ntsiki Langa, werwingsbeampte vir die Fakulteit Natuurwetenskappe, is hierdie weeklange program die ideale geleentheid vir leerders wat wil weet hoe hulle hul belangstelling in vakke soos chemie, syfers, plante, selle, diere, atome of genetika kan ontgin tot 'n suksesvolle loopbaan.

Die inskrywingsfooi van R2 200 sluit alle maaltye en verblyf in 'n universiteitskoshuis in. Die sluitingsdatum vir aansoeke is 10 Mei 2019. Aansoekvorms is beskikbaar by http://www.sun.ac.za/afrikaans/faculty/science/Pages/For-Prospective-Students.aspx. Vir meer inligting kontak Me Ntsiki Langa by nalanga@sun.ac.za of 021 808 2681.