Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Jongste nuus: opknappingswerk aan die Universiteit Stellenbosch Biblioteek

Ons deel graag die nuutste nuus oor die voortgesette opknappingswerk by die Universiteit Stellenbosch Biblioteek in aansluiting by ons vorige kommunikasie.

Die opknappings bestaan uit die opgradering van bestaande fasiliteite en infrastruktuur om in kliënte se behoeftes te voorsien en 'n moderne estetika vir die US Biblioteek te skep, terwyl die integriteit van die bestaande gebou behoue sal bly. Die hooffokus van die projek is om aan kliënte gerieflike en doeltreffende ruimtes te bied en terselfdertyd gebruik van die Biblioteek te vergemaklik.

Ons is bly om aan te kondig dat die projek glad verloop het ten spyte van 'n aantal haakplekke en dat die projek binnekort voltooid sal wees.

Weens oorvleueling tussen die fases, het ons besluit om nou terugvoer te gee oor wat afgehandel en wat nog uitstaande is.


Voltooide areas

Ons is baie bly om aan te kondig dat die Sirkulasie-area, studieareas sowel as die studentetoilette op die boonste vlak afgehandel en in gebruik is. Neem asseblief kennis dat al die toilette vir kliënte op die boonste vlak van die US Biblioteek nou geslagsneutraal is.

Al die boeke en tydskrifte is reeds teruggepak en is weer toeganklik vir gebruikers.

Die selfuitreik-en-terugbesorgeenheid is by die Sirkulasietoonbank op die boonste vlak geïnstalleer en is in gebruik.


Voltooiing van die res van die werk

In die ingangsarea moet die ontspanningsleesarea en vloere nog voltooi word en aluminiumvensters en-deure moet geïnstalleer word.

Die werk in die ontspanningsleesarea behels die installering van studie-areas en nuwe meubels. Sodra dit voltooi is, sal koerante en ontspanningsleesstof vir kliënte se gebruik hier uitgestal word.

In aansluiting by bogenoemde is die rekenaars, drukkers, e-inligtingskiosk en fotokopieerareas op die boonste vlak nog nie in gebruik nie. Die netwerkinstallasie wat hiervoor nodig is, sal teen middel April gedoen wees.

Die beoogde finale datum van afhandeling en oorhandiging van die projek is nou die begin van Mei 2022.

Ons bedank graag ons kliënte vir julle verdraagsaamheid, begrip en geduld tydens hierdie opknappingsproses. Ons wil julle weer verseker dat hierdie opknappings nodig was om vir julle toegang tot gemaklike en effektiewe ruimtes te kan bied.

Kontak gerus vir Delene Pretorius vir verdere besonderhede.


​Foto: Opgeknapte studiearea vir studente