Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Uitnodiging tot voorleggings: Ubuntu-dialoë Nagraadse Genootskap

Die Universiteit Stellenbosch (US) en die Staatsuniversiteit van Michigan (hierna 'MSU'), in die Verenigde State, nooi belangstellendes uit om voorleggings in te lewer om deel te neem aan 'n nagraadsegenootskapsprogram wat deur die Andrew W Mellon Stigting befonds word.

 

Ons nooi studente uit wat aan fakulteite of nagraads aan die US of die MSU studeer om voorleggings in te lewer wat uiteensit hoe hulle hoop om tot die Ubuntu-dialoë by te dra.

 

Die Ubuntu-dialoëprojek wil dupliseerbare raamwerke vir universiteitsmuseums in Afrika en elders ondersteun, verdiep en ontwikkel, en deur middel van plaaslike en internasionale dialoog daaraan saamwerk om dinamiese persele te skep vir medeproduksie en verspreiding van kennis en praktyk. Hierdie driejaarprojek word deur die Andrew W Mellon Stigting befonds.

 

Die Ubuntu-dialoë het die volgende sleuteloogmerke en -doelwitte:

 

  • om brûe tussen jongmense in Suid-Afrika en die Verenigde State te bou;
  • om instellings te transformeer by wyse van samewerkende vakkundigheid van betrokkenheid;
  • om jongmense se lewe deur middel van betrokke leer te transformeer; en
  • om die skeiding tussen die Noorde en die Suide deur digitale kommunikasie te oorbrug.

 

Agtergrond

 

Die kern van die Ubuntu-dialoëprojek is die imperatief om die aard en praktyke van dialoog op sigself nuut voor te stel deur te put uit 'n verskeidenheid filosofiese tradisies wat breër as Westerse perspektiewe of geskiedenisse strek. Die projek beoog om dit te verrig deur ubuntu te ondersoek met die sleutelaspek van dié begrip (Ramose, 2002) as vertrekpunt: die skepping van “ondogmatiese" kennis.

 

William (1976) redeneer dat sekere woorde “betekenisvolle, samebindende woorde in sekere aktiwiteite en die interpretasie daarvan is; betekenisvolle, bepalende woorde in sekere denkvorme. Sekere gebruike verbind sekere maniere van kyk na kultuur en die samelewing" [eie vertaling]. Die term 'ubuntu' is so 'n woord binne die Suid-Afrikaanse konteks. Hierdie Nguni-woord kom in die meeste Afrikatale suide van die Sahara voor en dra oral 'n soortgelyke betekenis van kollektiewe menswees en interafhanklikheid (Gade, 2012; Edozie, 2017). Op verskillende tydstippe in die geskiedenis, en saam met veranderings in die sosiale en politieke sfeer, is die begrip 'ubuntu' egter op verskillende maniere ingespan en het dit gevolglik verskeie betekenisse aangeneem.

 

Gade redeneer dat dié term gedurende apartheid in Suid-Afrika 'n narratief verskaf het wat as teenwig vir die heersende bestel kon funksioneer, een wat “idees van inklusiwiteit" teenoor “idees van eksklusiwiteit" bepleit. Gevolglik het die term deurtrek geraak van radikale antagonisme teenoor die onderdrukkende staatsbestel. Met die aanbreek van demokrasie is ubuntu met die nasiebouprojek verbind as 'n manier om die gewelddadige verlede te hanteer en 'n verenigde toekoms te skep. Die term is aangehaal as deel van die grondliggende etos van die Tussentydse Grondwet, wat dit gestel het dat bevryding nie deur wraak of vergelding bewerkstelling kan word nie (Cornell & Berkowitz, 2014). Toe die Waarheid‑en‑Versoeningskommissie in 1996 tot stand gekom het, is daar na ubuntu verwys om te benadruk dat die Kommissie op vergifnis en versoening sou fokus.

 

Vandag ervaar die Suid-Afrikaanse demokrasie egter verskerpende teenstrydighede. Baie mense reken die “reënboognasie"-projek het die einde van die pad bereik. Die nalatenskap van apartheid is nog nie uitgestryk nie, en nuwe vorme van onderdrukking het na vore gekom. Die samelewing is meer verdeeld as tevore. Kan die begrip 'ubuntu' steeds van betekenis wees by die kruispunt waar ons nou staan? Het die einde van ubuntu aangebreek, soos Matolino en Kwindingwi (2013) aanvoer? Of is die etiese projek van ubuntu nou belangriker as ooit tevore, soos Metz reken?

 

Die volgende temas sal verder ondersoek word:

 

  • Wat is vryheid in die huidige tydgleuf?
  • Wat is die geskiedenisse van ubuntu?
  • Watter instellings en ruimtes het ubuntu ingevoer, veral wat museums betref?
  • Watter gevolge het dit in Suid-Afrika ná apartheid dat die aard van ubuntu op verskillende maniere verstaan word?
  • Wat is pan-Afrikanisme binne 'n raamwerk van ubuntu?
  • Watter ander moontlikhede is daar buiten ubuntu?
  • Hoe raak Afrikane die hoofouteurs van hulle intellektuele denke?
  • Hoe maak ons Afrikadenke universeel sonder om parogiaal te word?

 

Die Ubuntu-dialoëprojek wil herbesoek, herbedink en begryp watter vormende invloed ubuntu oor 25 jaar van demokrasie op praktyke en instellings gehad het. Die oogmerk van die projek is om te ondersoek hoe die begrip 'ubuntu' verband hou – uitdruklik én implisiet – met die betekenisse wat mense aan hulle ervarings heg, binne individuele sowel as kollektiewe ruimtes.

 

Die projek sal die volgende behels:

 

  1. Ubuntu-studentegesprekke: Tien studente van die US en tien van die MSU sal elke jaar aanlyn dialoog voer oor eietydse kwessies waarvoor jongmense aan teenoorgestelde kante van die Atlantiese Oseaan te staan kom.
  2. Ubuntu-dialoë Nagraadse Genootskap: Hierdie uitruilprogram vir internskap (diensleer) sal nagraadse studente van die US en die MSU die tyd gun om praktiese ondervinding aan erfenisinstellings in mekaar se lande op te doen, veral in museums.

 

Aansoeke

 

  • Meesters- en doktorale studente aan die US en die MSU word vir die program in aanmerking geneem. Die internskap is interdissiplinêr en dus oopgestel vir studente vanuit vakgebiede soos die sosiale wetenskappe, regsgeleerdheid, ingenieurswese, geneeskunde en ekonomie. Ons moedig aansoekers uit voorheen benadeelde agtergronde sterk aan om aansoek te doen, asook studente wat nog nooit buite Suid-Afrika of die VSA gereis het nie.
  • Studente moet vir die jaar 2020 aan die US of die MSU ingeskryf wees om in aanmerking te kom.
  • Aansoekers moet 'n bondige voorlegging van 500 woorde inlewer wat op hulle verstaan van ubuntu fokus: Is die begrip tersaaklik vir die huidige tydvak of nie? Is daar ander moontlikhede buiten ubuntu?
  • 'n Volledige CV word ook vereis.

 

Inlewering

 

Aansoeke moet Natasha Coltman, e-pos-adres: ncoltman@sun.ac.za, teen 14 Augustus 2019 bereik.