Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Biblioteek se naam verander
Die nuwe naam van die JS Gericke Biblioteek by Universiteit Stellenbosch (US) is verlede week aangekondig. Dit sal voortaan bekendstaan as die Universiteit Stellenbosch Biblioteek (“Stellenbosch University Library” in Engels en “IThala leeNcwadi leYunivesithi yaseStellenbosch” in isiXhosa).

Die US se Komitee oor die Vernoeming van Geboue, Lokale en Ander Fasiliteite/Persele het reeds in 2015 voorgestel dat die naam “JS Gericke Biblioteek” ʼn proses van moontlike herbenoeming deurloop as deel van ʼn groter transformasieproses ter bevordering van ʼn verwelkomende kultuur aan die US.

In ʼn inklusiewe proses is ʼn taakspan in ooreenstemming met die US se relevante beleid in 2016 saamgestel wat bestaan het uit akademiese kundiges, die relevante administratiewe personeel en Studenteraadverteenwoordigers. Daarna het ʼn konsultasieproses met personeel, studente, gemeenskapsleiers en die Gericke-familie gevolg – ook in ooreenstemming met die toepaslike US beleid.

Die taakspan het verskeie belangegroepe by wyse van ʼn vraelys gekonsulteer, insluitend personeel, bestuurslede en studenteleiers.

Die meerderheid respondente het ʼn beskrywende benaming verkies, in teenstelling met ʼn simboliese naam of die vernoeming van ʼn bekende persoon. Meer as 80% van die senior biblioteekpersoneel het die beskrywende of funksionele herbenaming verkies.

Die Uitvoerende Komitee van die Raad (UKR), wat oor die name van geboue in oorstemming met die beleid besluit, het die nuwe naam vroeër vanjaar goedgekeur.