Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Verklaar u gestremdheid status

Die Departement van Arbeid (DvA) het op 7 Desember 2016 die Universiteit se Diensbillikheidsbeleid en -plan nagegaan om vas te stel of dit aan die Wet op Diensbillikheid voldoen.

Die DvA vereis dat alle werknemers hulle gestremdheidstatus verklaar. Benewens voldoening aan die DvA-vereistes, pas die Universiteit ook tans sy diversiteitsbestuursinisiatiewe aan om 'n klem op persone met gestremdhede in te sluit. Vir hierdie doel én om strategies te beplan, word alle werknemers aangemoedig om hulle gestremdheidstatus te verklaar. Op grond van die inligting wat ons sodoende insamel, sal die Universiteit nie net akkurate diensbillikheidsverslae by die DvA kan indien nie, maar ook daardie gebiede kan uitwys waar persone met gestremdhede onderverteenwoordig is. Boonop sal die Universiteit die loopbaanvordering van persone met gestremdhede kan naspoor en gepaste steun vir sodanige individue kan ondersoek.

Die Universiteit besef dat die kwessie van gestremdheid uiters persoonlik en delikaat is. Ons verseker werknemers dat vertroulikheid van inligting en respek vir die individu gedurende die insameling en gebruik van data gehandhaaf sal word.

Om te bepaal of 'n toestand as 'n gestremdheid beskou word, word die volgende omskrywing van gestremdheid in die Wet op Diensbillikheid gebruik: "Persone met gestremdhede word in die Wet omskryf as persone met 'n langtermyn- of herhalende fisiese of geestesaantasting wat hulle vooruitsigte van toetrede tot of vordering in die werkplek beduidend beperk."

'n Gestremdheid word voorts omskryf as die gevolg van 'n ongeluk, trauma, genetika of 'n siekte wat 'n persoon se mobiliteit, gehoor, sig, spraak of intellektuele of emosionele funksionering beperk.

Buiten die omskrywing van gestremdheid in die Wet op Diensbillikheid en in die Goeiepraktykkode: Kernaspekte van Gestremdheid in die Werkplek, erken die Universiteit ook die algemener omskrywing van diskriminasie op grond van gestremdheid wat vervat is in die Verenigde Nasies se Konvensie oor die Regte van Persone met Gestremdhede. Ingevolge dié konvensie beteken diskriminasie op grond van gestremdheid "enige uitsondering, uitsluiting of beperking op grond van gestremdheid wat bedoel is of die effek het om die erkenning, genieting of uitoefening, op 'n gelyke grondslag met ander, van alle menseregte en fundamentele vryhede op politieke, ekonomiese, maatskaplike, kulturele, burgerlike of enige ander gebied te belemmer of te verydel. Dít sluit in alle vorme van diskriminasie, met inbegrip van die weiering van redelike voorsiening". Redelike voorsiening beteken "nodige en gepaste veranderinge en aanpassings wat nie 'n uitermatige of onbehoorlike las oplê nie en, waar 'n bepaalde geval dit vereis, verseker dat persone met gestremdhede alle menseregte en fundamentele vryhede op 'n gelyke grondslag met ander kan geniet of uitoefen".

Ons versoek u dus vriendelik om ons van die nodige gestremdheidsinligting te voorsien. Maak asseblief van die funksie "Persoonlike inligting" op die selfhelpdiens sun-e-HR gebruik deur hierdie skakel te volg. Volg ook gerus die skakel "Werk gestremdheidsinligting by" vir die stapsgewyse proses om hierdie inligting op sun-e-HR te verstrek. As alternatief kan u die ingeslote verklaringsvorms (EEA1) invul en dit hetsy na sdm@sun.ac.za e-pos of in 'n verseëlde koevert wat gemerk is STRENG PRIVAAT EN VERTROULIK laat aflewer by die Bestuurder: Diensbillikheid, Afdeling Menslike Hulpbronne, Admin C (vir die aandag van mnr Sello Molapo). Die inligting moet ons asseblief teen 21 April 2017 bereik.