Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Konferensie: Ras en Transformasie in Hoër Onderwys
Begin: 15/11/2022, 09:00
Einde: 17/11/2022, 17:00
Kontak:Candice Andries -
Plek: STIAS, 10 Marais Road, Stellenbosch

Konferensietema: Ras en Transformasie in Hoër Onderwys

Aangebied deur die Universiteit Stellenbosch

Medeaanbieders: Bath-universiteit en die Nelson Mandela Universiteit​

15 tot 17 November 2022

Plek: STIAS, Maraisstraat 10, Stellenbosch

Hierdie konferensie fokus op ras en transformasie in die Suid-Afrikaanse hoër onderwys. Die konferensie staan in die konteks van die Universiteit Stellenbosch (US) se komplekse en uiteenlopende ervarings daarvan om te worstel met die imperatief om die universiteitslandskap ooreenkomstig die eise van menseregte, gelykheid en regstelling te transformeer. Hierdie fokus sal beskou word in die lig van transformasie van hoër onderwys in streeks‑, nasionale en internasionale verband.

Die konferensie sal besin oor hoe ras by begrippe soos klas, geslag, seksualiteit, taal en ander merkers van verskille aansny in die vorming van 'n grondslag vir die institusionele kultuur en werksaamhede aan 'n universiteit. Een van die kerngesprekspunte sal wees hoe om die institusionele dinamika te begryp wat universiteite daarvan weerhou om 'n getransformeerde institusionele kultuur te vestig. Die konferensie sal ook nadink oor hoe om begrippe, norme, idees en praktyke voort te bring wat transformerende uitkomste sal voortstu en verdiep.

Tydens die konferensie se daaglikse oggendsessies sal 'n hoofspreker verskeie dimensies van die tema bespreek – onder meer die rol van ras in die transformasie van hoër onderwys, rasnavorsing oor die funksionering van die universiteit en die rol van ras in institusionele verandering.

Die namiddagsessie bestaan uit verskeie parallelle sessies wat op verskillende plekke binne die breër Stellenbosch-omgewing sal plaasvind, in vennootskap met plaaslike gemeenskappe sowel as met skakelgeleenthede op kampus. Hierdie sessies sal konsentreer op die universiteit se kennis, onderrig en leer, sosiale impak en verhouding van betrokkenheid met die onderskeie gemeenskappe en gemeenskapsgebaseerde vennote. Die fokus sal wees op ontwikkelingsdimensies soos volhoubaarheid, opvoedkundige ontwikkeling, restitusie, sport en ontspanning, slawerny en inheemsheid, universiteitskoshuise en regstelling by en rondom die US Biblioteek. Die oorhoofse oogmerk van hierdie sessies is om lewendige gesprek oor geradikaliseerde uitsluiting en gebrek aan ontwikkeling in gemeenskappe te ontlok. Die skakelgeleenthede sal perspektiewe bied op hoe die universiteit se kennis en infrastruktuur in prosesse van regstellende ontwikkeling in plaaslike gemeenskappe gebruik kan word.

 

Hoofsessie – Dinsdag 15 November 2022: Ras en Transformasie in Hoër Onderwys (Prof Rajani Naidoo, Internasionale Sentrum vir Hoëronderwysbestuur en Visepresident [Gemeenskap en Insluiting], Kantoor van die Visekanselier, Bath-universiteit, Verenigde Koninkryk)

Hierdie plenêre sessie fokus op hoe ras en rassisme die funksionering van universiteite stuur, die impak wat dit het, hoe dit beperkend inwerk en hoe dit die toneel vir universiteitstransformasie voorberei. Die sessie gaan uit van die gesprek van die afgelope 28 jaar oor die oorkoepelende regulerende konteks van regerings- en kwasiregeringsbeleid ten opsigte van hoër onderwys. Die fokus is op die impak van ras op die beleide, gesprekke, benaderings, oorsigbestuur en praktyke rakende transformasie aan universiteite. Die spreker sal in die besonder kyk hoe universiteite in die streeks‑, nasionale en internasionale konteks ras en rassisme aangepak het, aangesien dit 'n hoeksteen van die strewe na universiteitstransformasie uitmaak.

 

Hoofsessie – Woensdag 16 November 2022: Rasnavorsing in Hoër Onderwys (Prof Jonathan Jansen, Buitengewone Professor, Fakulteit van Opvoedkunde, Universiteit Stellenbosch)

Hierdie plenêre sessie fokus op hoe die bestudering van ras in die hoër onderwys onderneem is en watter impak dit op die huidige akademieskap van onderrig en leer sowel as onderrig- en leerpraktyke het, asook op die breër strewe na transformasie.

 

Hoofsessie – Donderdag 17 November 2022: Ras en Institusionele Transformasie in Hoër Onderwys (Prof Melissa Steyn, Wits-sentrum vir Diversiteitstudies, Universiteit van die Witwatersrand)

Hierdie plenêre sessie is ingestel op die dinamika van ras in interne institusionele kultuur en hoe dit beperkend of instaatstellend inwerk op universiteitstransformasie, in die besonder op die vlak van (onder meer) fakulteite, koshuise, onderrig en leer, navorsing en die funksionering van die onderskeie verantwoordelikheidsentrums, soos dié vir geslagsgelykheid, 'gestremdheid', studentevoorligting en opvoedkundige ondersteuning. Die fokus sal val op die kwalitatiewe bedryfsdinamika van ras en rassisme – wat personeel, studente, institusionele rolspelers, departementshoofde, voorsitters, ensovoorts betref – in die daaglikse bedryfsaktiwiteite van die universiteit in die strewe na die instelling se transformasiedoelwitte. 

Klik hier om vir die konferensie te registreer en jou teenwoordigheid te bevestig.​

Klik hier om die volledige konferensieprogram af te laai.