Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Alumni-funksie
Begin: 09/12/2019, 12:30
Einde: 09/12/2019, 14:30
Kontak:Ronél Beukes - 021 808 3404
Plek: Ingang 1 / Entrance 1; Van der Sterr-kompleks / Complex

​Die jaarlikse funksie vir alumni en graduandi van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe word vanjaar op Maandag, 9 Desember 2019, vanaf 12:30 gehou.

Die hoogtepunt van die geleentheid is 'n gesprek met me Nicky Newton-King, wat onlangs as uitvoerende hoof van die Johannesburgse Effektebeurs (JEB) uitgetree het. 

Nicky Newton-King (53) is ˈn prokureur wat in korporatiewe finansies en effekteregulasies spesialiseer, en die eerste vroulike uitvoerende hoof in die 125-jarige bestaan van die JEB.

Newton-King het die grade BA en BALLB aan die Universiteit Stellenbosch voltooi. In 1994 het sy ˈn LLM met spesialisasie in korporatiewe finansies, effekteregulasies en administratiewe reg aan die Universiteit van Cambridge, Engeland behaal. In dieselfde tydperk het Queens' College haar met ˈn Foundation-beurs vir akademiese prestasie beloon.

Terwyl sy by Webber Wentzel Bowens Prokureurs gewerk het, het sy maatskappye in die effekte- en finansiële dienstebedryf geadviseer.

Newton-King het in 1996 by die JEB aangesluit en in 2000 die JEB se uitvoerende direkteur geword. In 2005 is sy in die direksie van die JEB aangestel en sewe jaar later, in Januarie 2012, het sy Russell Loubser as uitvoerende hoof opgevolg.

As adjunk- uitvoerende hoof was sy betrokke by die ontwikkeling van regstellende aksie-beleid en ˈn gelyke indiensnemingsplan by die JEB. Sy was ook verantwoordelik vir hul data-verkoopsbesigheid en e-handel inisiatiewe.

Op 28 Oktober 2014 het sy ˈn direkteur van die World Federation of Exchanges geword. Sy dien as ˈn lid van die Adviesraad oor Finansiele Markte en die Presidensiële Besoldigingskommissie. Sy is ook ˈn lid van die King-taakspan belas met binnehandel en die Adviesraad oor Finansiele Markte, en het gehelp om die Wetsontwerp oor Binnehandel van 1998 te skryf. Hierdie wetsontwerp maak voorsiening vir kompensasie vir verliese wat gely is as gevolg van binnehandel. Vanaf 2018 is sy ˈn nie-uitvoerende direkteur van Strate (Edms) Bpk.

Die voorsitter van die JEB, Nonkululeko Nyembezi, het op 30 Julie 2019 aangekondig dat Newton-King van plan is om op 1 Oktober 2019 as uitvoerende hoof van die JEB uit te tree. Sy sal opgevolg word deur Leila Fourie, wat ˈn uitvoerende pos beklee by die Statebondsbank van Australië.

“Sy (Nicky Newton-King) laat die JEB sterker, meer divers, verder tegnologies gevorderd, kommersieel knap, en kliëntgerig agter," het Nyembezi gesê.

Newton-King het gesê dat sy ˈn jaar aan haar gesin gaan bestee, maar dat sy ˈn sterk band met Suid-Afrika het en hoop dat ˈn ander deur sal oopgaan wanneer sy na die arbeidsmark terugkeer.

Datum:                 Maandag, 9 Desember 2019

Plek:                      Ingang 1, Van der Sterrgebou (hoek van Bosman- en Victoriastraat), Stellenbosch

Tyd:                       12:30 – 14:20

Program:

12:30-13:25            Vingerete in die foyer van die Van der Sterrgebou, en verwelkoming deur die dekaan, prof Ingrid Woolard.

13:25                      Gaste neem hul sitplekke in.

13:30-14:20             Me Nicky Newton-King in gesprek met dr Mike Lamont, Departement Ondernemingsbestuur

Daarna                    Bedanking en vertrek